Rugby
Haak Vrystaat, haak!─── MORGAN PIEK 08:48 Thu, 22 Jun 2023

Die Toyota Cheetahs speel Saterdag in Bloemfontein vir die eerste keer in vier jaar in die eindstryd van die Curriebeker wanneer hulle teen die verdedigende kampioene, die Pumas, te staan kom.
Die Cheetahs het verlede Saterdag die Bulle met 39-10 in die Rosestad geslag om hul plek in die eindstryd te bespreek, terwyl die span van die Laeveld die Haaie in Durban met 26-20 getroef het.
Die eindstryd is vir die Cheetahs 'n gulde geleentheid om sake reg te stel ná verlede jaar se halfeindstryd in Bloemfontein, toe die Pumas teruggeveg het om die Blikore in die doodsnikke met 38-35 te klop. Die Cheetahs is egter baie versigtig om die woord wraak te gebruik, maar die sege teen die span van die Jakarandastad het baie vir hulle beteken. Die breier Hawies Fourie het erken dit het 'n jaar geneem om die hartverskeurende nederlaag teen die Pumas agter hulle te sit.
Die goeie nuus vir die Cheetahs is dat die eindstryd nie die agterlyn-generaal, Ruan Pienaar, se swanesang sal wees nie aangesien dié veteraanspeler sy kontrak met die span met nog 'n jaar verleng het. Dit is wel die laaste Curriebeker-wedstryd vir die senter David Brits, losskakel Siya Masuku, stut Beertjie van Vuuren en die vuurvreter flank, George Cronjé.
Hoewel die Cheetahs die tuisveldvoordeel sal geniet, is daar dié wat van mening is dat die Pumas as die gunstelinge vir 'n tweede agtereenvolgende titel beskou kan word. Dit is aangesien hulle 'n effe beter rekord teen die Cheetahs het in onlangse tye, maar die Vrystaters se gees is op die stadium op 'n volgende vlak, nadat hulle onlangs in Nelspruit met 29-14 teen die einste Pumas koning gekraai het.
Hoewel daar natuurlik druk op die Cheetahs sal wees in die eindstryd, is Fourie egter van mening dat daar minder druk sal wees die naweek aangesien die meeste van die harde werk reeds gedoen is en nou moet alles net in plek val.
"Daar is druk, maar ek glo dat daar meer druk in die halfeindstryd is aangedien almal in die eindstryd wil speel," sê Fourie.
"Maar, jy moet die halfeindstryd wen as sy in die eindstryd wil speel. In die eindstryd is dit 50-50 en enige van die twee spanne kan seeviër en voel dat hulle iets bereik het.
"Vir my is die druk in die halfeindstryd meer, veral ná verlede jaar. Ons is egter nou oor daai hekkie. Daar is immers nog druk op ons, maar dit is goeie druk. Dit is druk wat die beste van die spelers sal uitbring en ons weet hoe om dit te hanteer.
"Dié seisoen was daar baie druk op ons en ons was agter teen rustyd in die meeste wedstryde, en ons het in die tweede helfte teruggeveg om te wen. Ons sal daardie ondervinding gebruik wanneer die wedstryd Saterdag taai word."
Die kaptein, Victor Sekekete, het op sy beurt 'n beroep gedoen op die Vrystaat-ondersteuners om die stadion vandeesweek oranje te verf. Sekekete het aan Bloemfontein Courant gesê ondersteuners in die stadion beteken bitter baie vir die span en hulle wil daardie energie in die finaal gebruik.
"As 'n span beskou ons onsself as familie en vir die ondersteuners om na die wedstryd te kom beteken baie vir ons.
"Die atmosfeer wat geskep word met 'n vol stadion is die doepa wat ons nodig het. Dit is altyd baie lekker om te sien dat die mense in die pawiljoene dit geniet.
"Ons kry baie boodskappe van ons ondersteuners en daar is baie interaksie met hulle en ons waardeer dit opreg. Dit is hoekom dit vir ons belangrik sal wees dat die mense ons die naweek kom ondersteun. Dit sal ons baie help om die beker terug te bring na Bloemfontein."
Saterdag se groot Curriebeker-eindstryd tussen die Cheetahs en Pumas by die Toyota-stadion skop om 16:00 af.
Morgan Piek