On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Nóg reën verwag in dele van Vrystaat, Noord- en Oos-Kaap

───   ROBYN SCHUTTE 17:03 Wed, 27 Mar 2024

Nóg reën verwag in dele van Vrystaat, Noord- en Oos-Kaap | News Article
Foto: Getty Images

“Daar is hoop vir reën in die eerste week van April wat ’n welkome afwisseling sal wees ná die droë toestande van die afgelope tydperk.”

Die onvoorspelbaarheid van die weerstoestande in Suid-Afrika lei tot toenemende onsekerheid oor die vooruitsigte vir reënval in die Noord- en Oos-Kaap, asook die Suid-Vrystaat. 

“Daar bestaan 'n moontlikheid dat daar nog ’n bietjie reën die volgende paar dae oor hierdie streke kan voorkom. Dit dui egter daarop dat die reënwaarskynlikheid besig is om ooswaarts te beweeg,” sê Johan van der Berg, ’n onafhanklike landbouweerkundige.  

“Daar is hoop vir reën in die eerste week van April, wat 'n welkome afwisseling sal wees ná die droë toestande van die afgelope tydperk,” sê hy.

Die meeste reën wat die afgelope tydperk voorgekom het, is oor die westelike dele van die land waargeneem. “Hierdie situasie is interessant, aangesien die westelike dele gewoonlik droër is. Een van die redes hiervoor is die teenwoordigheid van 'n hoogdrukstelsel oor die sentrale dele van Suid-Afrika, wat ongunstig vir reënval is. Aan die buitekant van hierdie hoogdrukstelsel kom daar 'n gebied van laagdruk voor, waar reën wel moontlik is. Dit verklaar die voorkoms van reën oor die westelike dele van die land,” sê Van der Berg.

Reën het veral in die westelike dele van Suid-Afrika geval. Foto: Pixabay  

Die droogte wat ervaar word, verhoog die waarskynlikheid van rypskade. Hoewel rypskade gewoonlik in Mei voorkom, is daar reeds ryp op sommige plekke weens die droogte en uiterste hitte. Die vroeë ryp kan moontlik skade veroorsaak aan graangewasse wat reeds swakker is as gevolg van die onlangse droogte.

Die vooruitsigte vir die res van die winter dui op ’n voortsetting van die droë toestande met beperkte reënval wat vanaf die tweede helfte van April verwag word.

OFM Agri/Robyn Schutte mvhdg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.