On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Boer van Wolmaransstad is Noordwes Jongboer van die Jaar

───   ROBYN SCHUTTE 07:30 Wed, 24 Apr 2024

Boer van Wolmaransstad is Noordwes Jongboer van die Jaar  | News Article
Kobus Beyers is Agri Noordwes se 2024 Jongboer van die Jaar. Foto: Agri Noordwes/Facebook

“Hy glo vas daarin dat jong boere die sleutel is tot die voortbestaan en die vooruitgang van die bedryf.”

Agri Noordwes het op sy jaarlikse jongboerkongres die provinsie se Jongboer van die Jaar vir 2024 aangewys. Kobus Beyers, boer van Wolmaransstad, het met die louere weggestap het.

Gebore in 1984 op ’n plaas in die hart van die Vrystaat, is Kobus grootgemaak met ’n passie vir landbou. Sy jeug is deurgebring op die familieplaas waar hy die waardes van harde werk, deurslaggewendheid en rentmeesterskap geleer het. Hy was in Makwassie en Wolmaransstad op skool en het landbou in Pretoria gaan studeer.

Hy het saam met sy oupa, pa en oom begin boer. Hier het hy die beginsels van boerdery geleer en ’n passie ontwikkel vir die bestuur van ’n suksesvolle landbouonderneming. In 2017 het Beyers en sy broer, Nelius, besluit om hul eie pad te stap en die Alkor-boerdery te stig. Hierdie nuwe onderneming het hulle die geleentheid gegee om hul eie stempel op die bedryf af te druk en saam innoverende praktyke te ontwikkel.

Die reis na die titel van Jongboer van die Jaar was nie sonder uitdagings nie. Beyers vertel van die aanvanklike twyfel toe sy broer hom aangemoedig het om in te skryf vir die kompetisie. Die proses het begin met ’n inskrywingsvorm en ’n intensiewe plaasbesoek deur ’n paneel van beoordelaars. Hierdie besoek, hoewel aanvanklik intimiderend, het hom die geleentheid gebied om sy passie vir boerdery te deel en sy kennis van die bedryf te demonstreer.

Een van die hoogtepunte van die Jongboerkongres was die motiveringspraatjie deur GP van Reede van Oudtshoorn. Beyers beskryf hierdie ervaring as inspirerend en verfrissend en dit het hom laat besef hoe belangrik dit is om betrokke te raak by die landbougemeenskap en om kennis te deel met ander jong boere.

‘Toekoms van landbou is in die hande van die jeug’

Vir Beyers is die toekoms van die Suid-Afrikaanse landbou in die hande van die jeug. Hy glo vas daarin dat jong boere die sleutel is tot die voortbestaan en die vooruitgang van die bedryf. Met sy toewyding, innovasie en leierskap is hy ‘n beduidende voorbeeld van wat moontlik is as jong boere hul drome najaag.

Sy boodskap aan ander jong boere is een van aanmoediging en inspirasie. Hy moedig hulle aan om te volhard, hul passie na te jaag en betrokke te raak by die landbougemeenskap. Vir hom is boerdery nie net ‘n beroep nie, dit is ‘n roeping – ‘n roeping wat hy met trots en toewyding vervul.

OFM/Agriculture dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.