On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Stories wat in 2022 landbou-nuusopskrifte gehaal het

───   ELSABÉ RICHARD 07:35 Mon, 09 Jan 2023

Stories wat in 2022 landbou-nuusopskrifte gehaal het | News Article

Daar was kommer dat voortgesette swaar reën tot oesverliese in dele van die Noord-Kaap sou lei.

Die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, het in April met OFM-nuus gedeel dat daar veral kommer was dat die reën ‘n negatiewe uitwerking op sojaboon-oeste in die provinsie sou hê. Daarmee saam kan baie nat grond, stropers en ander toerusting se vermoë om in landerye te kom, beïnvloed. Jansen se opdatering oor hoe die reënval oeste in die Noord-Kaap geraak het, volg nadat KwaZulu-Natal oorstromings ervaar het.

LEES OOK: Nóg swaar reën kan lei tot oesverliese in Noord-Kaap    

Dele van Noordwes het ook aangemeld dat die provinsie bogemiddelde reënval vir April gekry het, en dat hulle in die geskiedenis nog nooit só baie reën in daardie maand in die provinsie gesien het nie.

Agri SA het in September aangekondig dat dit met Eskom sal vergader oor die beurtkrag en die uitwerking wat dit op die landboubedryf se vermoë het om kos te produseer. Christo van der Rheede, die organisasie se uitvoerende direkteur, het met OFM-nuus gedeel dat Agri SA hoop dat daar oplossings ter tafel gelê kan word. Van der Rheede het ook beklemtoon dat dit nie net die landboubedryf is wat negatief deur beurtkrag geraak word nie. Talle ander bedrywe, tesame met gewone landsburgers, moet kerse op hulle noodsaaklikhede-lys voeg.

LEES OOK: Agri SA hoop vir oplossings tydens vergadering met #Eskom

Vrystaat Landbou, tesame met onder andere die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, het in November die Lesotho-grens besoek. Dit volg nadat onwettige aktiwiteite en misdaad die veiligheid van boere, hul gesinne en werkers nadelig raak. Vrystaat Landbou se Jakkals le Roux sê hulle het reeds die afgelope jare verskeie versoeke aan die regering én die LUR van Polisie, Paaie, en Vervoer gerig om behulpsaam te wees om die 18 tot 20km grenspad te rehabiliteer, sodat dit aanvaarbaar vir wetstoepassing is om die nodige grensbeskerming te verskaf, en ook voorkomende operasies van stapel te stuur. 

LEES OOK: Kommer oor winsmarges vir veebedryf    

Winsmarges vir grane het in 2022 goed gelyk. Daar was egter kommer oor winsmarges vir die veebedryf. ‘n Landbou-ekonoom, Professor Johan Willemse, het dit met OFM-nuus gedeel nadat hy produsente op 4 Augustus by Vrystaat Landbou se jaarkongres toegespreek het. Hy het gesê kommer oor die veebedryf se winsmarges is weens ‘n swakker ekonomie en dieresiektes soos bek-en-klouseer wat in dele van Suid-Afrika — insluitend in die Noordwes en Vrystaat — aangemeld is.

LEES OOK: Suid-Afrikaanse boere deur Saai by COP27 verteenwoordig  

Die landbou-organisasie, Saai, het Suid-Afrikaanse boere by die sewe-en-twintigste sitting van die Konferensie van die Partye, oftewel COP27, in Egipte verteenwoordig. Volgens Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sou die kwessies van Suid-Afrikaanse landbouers in meer as 30 vergaderings bespreek word. De Jager het vertel dat kwessies oor aanpasbaarheid, belastings en tariewe op vleis, en naspeurbaarheid geopper sou word. Meer as 70 landbouleiers van oral in die wêreld is genooi om die geleentheid by te woon.

LEES OOK: Skaapboer vol moed om aan te hou boer soos wat reën groenigheid saai   

Die reën wat deur die jaar in die Noord-Kaap voorgekom het, het broodnodige verligting aan die dors velde in die Calvinia-omgewing gebring. Die velde, wat in 2021 asvaal was, is met groen bossies versier. ‘n Skaapboer in Calvinia, die 57-jarige Maria Kastoor, het met OFM-nuus gedeel dat hulle dankbaar is vir die neerslae en boer nog vol moed voort. OFM-nuus het voorheen berig dat alhoewel droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap goeie opvolgreën ontvang het en die veld mooi herstel het, is sommige geaffekteerde boere se inkomstestrome nog nie herstel nie.

OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.