Agriculture
Skaapboer vol moed om aan te hou boer soos wat reën groenigheid saai─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Tue, 04 Oct 2022
Die reën wat deur die jaar in die Noord-Kaap voorgekom het, het broodnodige verligting aan die dors velde in die Calvinia-omgewing gebring.
Die velde, wat verlede jaar asvaal was, is nou met groen bossies versier.
‘n Skaapboer in Calvinia, die 57-jarige Maria Kastoor, sê hulle is dankbaar vir die neerslae en boer nog vol moed voort.
Sien onderstaande PODCAST
“Verlede jaar se droogte was verskriklik [erg]. Ons het nie gedink ons sal dit oorleef deur die droogte nie...
“Die bosse was droog in die veld. Dan beteken dit jy moet jou skaap [teen siektes inent], en jy moet lek vir hulle gooi laat hulle kan vitamiene inkry om te kan eet want hulle moet die droë kos eet. Hulle moet stokkies optel.
"Dit was moeilik verlede jaar,” vertel Kastoor.
LEES OOK: Begin jou eie boerdery, moedig NK-skaapboer vroue aan
Maar ten spyte van die kleurlose landskap verlede jaar, is Kastoor en haar bure steeds op hulle plase en boer hulle nog voort met vertroue.
In Februarie vanjaar het daardie omgewing sommer 45mm reën binne minute ontvang, sê Kastoor met groot dankbaarheid, en van daar af het reën gereeld voorgekom.
OFM-nuus het voorheen berig dat alhoewel droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap goeie opvolgreën ontvang het en die veld mooi herstel het, was sommige geaffekteerde boere se inkomstestrome nog nie herstel nie.
LEES OOK: Fotojoernalis emosioneel terwyl sy oor #droogte-boek praat
Die droogte in die provinsie was so erg dat dit ‘n vryskut-fotojoernalis, Marzahn Botha, geïnspireer het om ‘n traantrekker van ‘n boek te publiseer.
Die boek, getiteld ‘Lafenis in die Droogte’, is gevul met foto’s en onderhoude met nie net boere nie maar hul werkers en mense in daardie gemeenskappe oor hoe geen tot baie min reën hulle lewens verander het.
Behalwe vir die welkome reën in dele van die Noord-Kaap wat daarna gesmag het, het voorturende reën vroeër vanjaar landerye in dele van die Vrystaat benadeel. Sommige boere kon nie klaar stroop óf plant nie.
Daarmee saam het padinfrastruktuur weens die reën verder verswak.
Reënvooruitsigte
Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige, het intussen met OFM-nuus gedeel dat swaar reën vir Oktober en veral vir November, Desember en Januarie voorspel word.
Hy sê albei die La Niña en die Indiese Osean is in redelike gunstige fases vir gemiddelde tot bogemiddelde reën oor groot dele van die land, met die uitsondering van die Wes-Kaap.