Agriculture
Agri SA hoop vir oplossings tydens vergadering met #Eskom─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 27 Sep 2022
Agri SA gaan met Eskom vergader oor die beurtkrag en die uitwerking wat dit op die landboubedryf se vermoë het om kos te produseer.
Christo van der Rheede, die organisasie se uitvoerende direkteur, sê die melk- en pluimvee-bedrywe is van die bedrywe wat negatief deur Eskom se beurtkrag geraak word.
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die organisasie behoort binne die volgende week of so met die nasionale kragvoorsiener te vergader, met die hoop dat daar oplossings ter tafel gelê kan word wat die bedryf sal help om te kan produseer.
Van der Rheede het ook beklemtoon dat dit nie net die landboubedryf is wat negatief deur beurtkrag geraak word nie. Talle ander bedrywe, tesame met gewone landsburgers, moet kerse op hulle noodsaaklikhede-lys voeg.
LEES OOK: Beurtkrag ondermyn voedselproduksie
Alhoewel van die land se produsente reeds hulle eie kragopwekkers het om die impak van beurtkrag op hulle bedrywighede te versag, sê Van der Rheede is daar steeds baie produsente wat dit nie kan bekostig nie.
“Ons harte gaan uit na hulle toe. Dit is waarom Agri SA hierdie saak opneem, nie net in die media nie, maar ook met die regering, ook met Eskom.
"Ons weet Eskom het baie uitdagings en ons het vertroue in mnr. [André] de Ruyter en Jan Oberholzer, en ons hoop die regering sal ons die nodige ondersteuning gee om die situasie te beredder,” sê Van der Rheede.
LEES OOK: Noord-Kaapse windplase deel van ooreenkoms om energiekrisis op te los
OFM-nuus het voorheen berig dat Vrystaat Landbou (VL) ook sy kommer oor veral die hoë vlakke van beurtkrag uitgespreek het. Die organisasie het gesê die toename in beurtkrag ondermyn voedselproduksie in Suid-Afrika.
Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê die organisasie se lede is bekommerd oor die impak van beurtkrag op hulle produksievermoë.
ALSO READ: SA energy crisis biggest contributor to local inflation - economist
Armour se kommer volg nadat Eskom onlangs fase 6 beurtkrag moes implementeer ná die uitskakeling van 'n opwekkingseenheid elk by sy Kusile- en Kriel-kragstasies.
Hy het gesê dit veroorsaak egter dat landbou-aktiwiteite vir groot dele van die dag tot stilstand gebring moet word.
VL het intussen 'n voorlegging aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) gedoen in teenkanting van Eskom se 32%-prysverhoging-versoek wat hy van 1 April 2023 af wil begin implementeer.