On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Departement sê daar is nie 'n #FarmList vir onteiening sonder vergoeding nie

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:16 Tue, 14 Aug 2018

Departement sê daar is nie 'n #FarmList vir onteiening sonder vergoeding nie  | News Article

In die hoofstorie: Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming hou vol dat hy nie 'n lys gepubliseer het met eiendomme wat geoormerk is om onteien te word sonder vergoeding nie.


'n Woordvoerder van die departement, Phuti Mabelebele, sê 'n lys waarop plase, enkele kleinhoewes en erwe voorkom, word deur AfriForum versprei en is nie deur die departement saamgestel nie.

Sy beklemtoon die departement gaan nie nou eiendom sonder vergoeding onteien nie. Die moontlike wysiging van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak is steeds in die proses. Mabelebele sê die departement gaan egter voort met normale prosesse betreffende grondeise wat deel van sy grondrestitusie en grondherverdeling programme vorm. Dit het vroeër vandeesmaand aan die lig gekom dat die ANC ná sy nasionale uitvoerende komitee se lekgotla glo 139 plase uitgekies het wat hulle sonder vergoeding wil onteien. 

eNCA berig die ANC se voorsitter van ekonomiese transformasie, Enoch Godongwana, het daarna te kenne gegee eiendom is reeds daarvoor geïdentifiseer en hulle wil nou toets of grondonteiening sonder vergoeding kan geskied.  

Die adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, het aan OFM-nuus gesê dié burgerregte-organisasie het die lys betroubaar bekom en die regering moet nou antwoorde verskaf.

Daar is 32 plase in Noordwes, 28 eiendomme in die Vrystaat en 18 eiendomme in die Noord-Kaap op dié lys. In die Oos-Kaap is daar 29 eiendomme en in KwaZulu-Natal 30 eiendomme. Intussen het 'n bekommerde grondeienaar,  Richard Tarr, wat meer as vier hektaar grond by Escourt in KwaZulu-Natal besit, aan OFM-nuus gesê hy is onseker omdat sy onderverdeelde kleinhoewe deel is van Wagendrift 798 wat op dié uitgelekte lys verskyn.

Agri SA se hoof van grondsake, Annelize Crosby,  sê daar is geen rede tot paniek rondom dié lys wat deur AfriForum versprei word nie.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.