On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Local News

Vermiste Bloemfonteinse vrou vermoedelik vermoor

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 18:25 Wed, 13 Jun 2018

Vermiste Bloemfonteinse vrou vermoedelik vermoor | News Article
Foto: Mark Steenbok

Die polisie in Bloemfontein ondersoek 'n klag van moord nadat die vermiste 46-jarige, Natasha Mans, se lyk Woensdag in 'n veld onder 'n boom in die Groenvlei-gebied gevind is.


Haar lyk is nie ver van die huis gekry nie waar sy by 'n vriend, met wie sy in 'n romantiese verhouding was, gebly het. Mans het bykans twee weke gelede spoorloos verdwyn van dieselfde huis. OFM-nuus se Mark Steenbok en Josca Human berig die polisie was vroeër steeds op die toneel en haar lyk is laatmiddag van die toneel verwyder. 

Nuuskieriges het ook voor die hek van dié perseel saamgedrom. Die hek was egter gesluit.

Intussen sê die polisie se woordvoerder, Chaka Marope, dat Mans se lyk omstreeks 14:00 met 'n skietwond in die bors gekry is.

Volgens hom is Mans se lyk deur die eienaar van die huis gevind,. Sy was in ‘n  romantiese verhouding met hom betrokke. “In die stadium ondersoek ons nog die voorval, maar vermoed die slagoffer is vermoor, waarna haar lyk op die misdaadtoneel gelos is.”

'n Vuurwapen is ook by haar lyk gekry. Dit wil voorkom dat dit moontlik nie dieselfde vuurwapen is waarmee sy geskiet is nie.

Mans het op 31 Mei dié huis verlaat waar haar lyk vanmiddag gevind is. Die polisie se Wendy Nkabi het destyds gesê sy het ook 'n brief agtergelaat waarin sy haar familie ingelig het dat sy weggaan.

Volgens inligting is daar aanvanklik beweer dat Mans met haar vermoorde tienerdogter, Noeline Koekemoer se 'as' verdwyn het, maar die 'as' is na bewering later in die huis in Groenvlei gekry.

Koekemoer is in April 2015 in Bainsvlei, buite die stad, waar sy in ‘n woonstel saam met haar ma gebly het, verkrag en vermoor. Moses Maoka is later in hegtenis geneem in verband met haar moord. Hy is sowat agt maande later twee keer lewenslange tronkstraf opgelê.

Sover is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Die ondersoek duur voort.


OFM-nuus/ Mark Steenbok & Josca Human 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.