Local News
Botsing eis twee NK-polisiebeamptes nadat hulle van ongelukstoneel terugkeer─── MARK STEENBOK 15:22 Wed, 24 Jan 2018
Die polisie in die Noord-Kaap het hulle medelye met die families van twee polisiebeamptes getoon wat tragies hulle lewens die afgelope naweek in ‘n motorongeluk verloor het.
Polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê sersant Bakang Alec en konstabel Tumoetsile Mocwane het Sondag van ‘n ongelukstoneel teruggekeer toe die ongeluk omstreeks 14:00 naby Tsineng op die Kuruman-pad plaasgevind het.
Kock sê die twee polisiebeamptes wat aan die provinsiale speurafdeling verbonde was, is op die toneel dood verklaar, terwyl die insittendes van die BMW in ‘n ernstige toestand na ‘n plaaslike hospitaal gebring is.
Die begrafnisdiens van sersant Alec sal eerskomende Saterdag in Pampierstad plaasvind terwyl konstabel Mocwane Sondag in Kimberley ter ruste gelê gaan word.
Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend en enigiemand met inligting kan Kaptein Hendrik Seleke by 078-255-7179 skakel.
Kock sê nog ‘n 34-jarige polisiebeampte, konstabel Claude Roy, het hierdie week aan natuurlike oorsake gesterf. ‘n Gesamentlike gedenkdiens sal môre vir die drie polisiebeamptes by die Polisie-gimnasium in Kimberley gehou word.
OFM-nuus