On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Local News

Bejaarde vrou steeds kritiek ná wrede Potch-aanval

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:48 Wed, 06 Dec 2017

Bejaarde vrou steeds kritiek ná wrede Potch-aanval | News Article

‘n Bejaarde vrou van Potchefstroom wat verlede week wreed aangerand is, is in ‘n kritieke toestand in ‘n private hospitaal in Johannesburg.


Die 67-jarige Lilly Smit se 69-jarige man, Adriaan, is by hul huis in Louwstraat op die toneel dood nadat hy waarskynlik deur ‘n aanvaller met ‘n ysterpyp doodgeslaan is.

Die Smit-egpaar se skoonseun, Joe van Dyk, sê daar word vermoed dat slegs een verdagte verlede Vrydag omstreeks 04:00 toegang tot die erf bekom het deur oor ‘n buitemuur te klim.

Die booswig het heel waarskynlik in hul lapa weggekruip totdat Adriaan kort ná 05:00 buitentoe is. Van Dyk sê sy skoonpa is vermoedelik by sy Isuzu-bakkie, wat onder ‘n afdak langs die motorhuis was, deur die man oorrompel en met ‘n ysterpyp agter sy kop geslaan. Adriaan het op die grond geval.

Lilly het vermoedelik onraad vermoed en ondersoek gaan instel toe die booswig haar ook aangerand en met ‘n ander ysterpyp geslaan het. Van Dyk sê die booswig het die egpaar toe in die huis na ‘n deel van die kombuis gesleep.

Daar was vermoedelik ‘n struweling, waarna hy Lilly verder aangerand het. Sy het haar bewussyn verloor. Van Dyk sê die man het die Isuzu-bakkie se sleutels en twee selfone gevat en weggejaag.

Volgens hom is die huis nie omgekrap nie en niks anders word vermis nie.

‘n Buurman, wie se honde geblaf het, het toe oor die Smit-egpaar se buitemuur gespring om ondersoek te gaan instel. Hy het hulp ontbied toe hy bloed gesien het.

Van Dyk sê ‘n sekuriteitskamera in die straat wys duidelik hoe die aanvaller vroeër oor die buitemuur van die egpaar se huis gespring het.

Lilly se skoonseun sê haar toestand is onveranderd. Sy het bloeding op die brein en is onder verdowing. Adriaan word volgende Woensdag om 14:00 vanuit die AGS Miederpark in Potchefstroom ter ruste gelê.

Intussen bly die verdagte wat verbind word met dié aanval in aanhouding. Die 28-jarige Pfunzi Netshiongolwe sal na verwagting môre aansoek om borgtog doen nadat hy Maandag vlugtig in die plaaslike landdroshof op aanklagte van moord, poging tot moord, huisroof en motordiefstal verskyn het.

Netshiongolwe het ná die aanval glo in Smit se Isuzu-bakkie in die rigting van Mooibank buite die stad gevlug. Die Koördineerder van die Mooibank-buurtwag, Suzette Oosthuizen, sê 'n lid het 'n boodskap op dié buurtwag se WhatsApp-groep geplaas dat 'n bakkie op die Mooibankpad omgeslaan het. Die bakkie het op sy wiele tot stilstand gekom, waarna Netshiongolwe weer daarmee weggejaag het.

Die lid het onraad vermoed en hulp ontbied. Die Isuzu-bakkie het 'n ent verder teen 'n vragmotor gebots en weer omgeslaan. Oosthuizen sê die verdagte is deur CB-sekuriteitslede in samewerking met lede van dié buurtwag aangekeer en deur die polisie in hegtenis geneem. Sy beklemtoon die belang van gemeenskapsbetrokkenheid.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.