On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

Aardbewing in Welkom-gebied bevestig

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:16 Tue, 28 Nov 2017

Aardbewing in Welkom-gebied bevestig  | News Article
Foto: Wikipedia

Die Raad vir Geowetenskappe het bevestig dat 'n aardbewing vanoggend in die Welkom-Goudveld-gebied voorgekom het.


Die projekleier van dié raad se data-analise, Ian Saunders, sê die aardskudding vanoggend om 07:20 het sowat 3,1 op die Richterskaal gemeet. Verskeie mense het op die Facebookblad, Welkom Stad, laat weet dat hulle die skudding in Odendaalsrus en selfs in 'n mindere mate in Virginia gevoel het. Volgens inskrywings op dié blad was die skudding erg in die Welkom-woonbuurte Flamingopark, Jim Fouchépark, St. Helena en Seemeeupark.

'n Inwoner van die woonbuurt Dagbreek skryf op dié blad dat sy nog gelê en slaap het toe sy van die skudding wakker geskrik het. Nog 'n vrou skryf haar hele bed het geskud. Saunders kon nog nie bevestig wat die oorsaak van die aardskudding was óf waar die episentrum daarvan was nie.

In April vanjaar was daar ‘n aardbewing, wat 4,6 op die Richterskaal gemeet het, tussen Klerksdorp, Stilfontein en Orkney in Noordwes. Die aardbewing, wat sowat 5km ondergronds was, se trillings kon tot in Vrystaatse dorpe soos die Welkom-gebied, Vredefort, Kroonstad en Hennenman gevoel word. Die Raad vir Geowetenskappe het toé gesê al is dit ‘n rare verskynsel, gebeur dit soms dat aardbewings met soortgelyke Richterskaal-metings in myngebiede in Noordwes voorkom. Daar word vermoed dat die skudding deur mynbedrywighede veroorsaak is, maar dit is nie bevestig nie.

Die episentrum van April se skudding, wat sowat 36 sekondes geduur het, was tussen Klerksdorp, Stilfontein en Orkney. Skade aan geboue is toe aangerig.


Kliek hier vir nog OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.