Local News
Wees paraat, vra neef van vermoorde Fochville-boer─── CHRISTAL-LIZE MULLER 12:04 Wed, 01 Nov 2017

Die boeregemeenskap oor die land heen moet nou meer as ooit paraat wees. Dit is die vermoorde Willem Barnard se neef, Boet, se pleidooi aan gemeenskappe.
Dit kom nadat Willem gister deur twee verdagtes op 'n plaas in die Fochville-distrik noodlottig gewond is. Boet sê Willem en sy broer Dawie bly al 40 jaar op die plaas, waar hulle ná hul pa se dood jare gelede verder geboer het, al was dit by tye in moeilike omstandighede. Boet vra mense, veral op plase, om veiligheidsbewus te wees.
Intussen sê Sarel van der Wat van die Parys-Noordwes-veiligheidsgroep dat boere en die polisie vinnig gereageer het ná die 56-jarige Willem Barnard op die plaas Eigenaarfontein in die Fochville-distrik vermoor is. Van der Wat het gesê gemeenskapslede was binne minute op die toneel.
Paaie is versper en die booswigte se spore is gevolg. Hy skat die twee mans is met die spoedige reaksie van die gemeenskap binne ‘n halfuur aangekeer waar hulle op die R500 geloop het.
Die twee verdagtes is aan die polisie oorhandig. Van der Wat vra boere en betrokkenes by openbare inhegtenisnemings om koelkop te bly en hulle moet nie die gereg in eie hande neem nie.
Polisiewoordvoerder in Gauteng, Lungelo Dlamini, sê die verdagtes, albei 30, sal na verwagting môre in die landdroshof in Fochville op aanklagte van moord, poging tot moord en die besit van 'n onwettige vuurwapen verskyn. Dlamini sê die verdagtes het na bewering 'n plaaswerker wat by Willem was toe hy geskiet is, agternagesit en ook op hom geskiet. Die plaaswerker is ongedeërd.
OFM-nuus