On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Aap in haglike toestande in Koffiefontein gered

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:55 Wed, 20 Sep 2017

Aap in haglike toestande in Koffiefontein gered | News Article

'n Inwoner van 'n plakkerskamp by Koffiefontein in die Vrystaat sal binnekort aangekla word van dieremishandeling nadat hy 'n jong blouaap-mannetjie vir sewe maande in haglike toestande aangehou het.


Senior inspekteur van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV), Reinet Meyer, sê 'n lid van die gemeenskap het die DBV ontbied en met hulle aankoms eergister (Maandag) by die betrokke huis was die aap vasgemaak aan 'n pyp sowat drie meter van die grond af. Dié pyp was tussen 'n sinkhuis en 'n ander paal vasgemaak. Daar was geen kos of water vir die dier in sig nie.

Die eienaar het verduidelik dat hy die aap op ‘n paal voor sy sinkhuis aangehou het, omdat sy voorvaders aan hom gesê het as hy dit doen, sal hy met “rykdom geseën” word.

Meyer sê toe hulle die aap van die paal wou verwyder, was die eienaar “arrogant”. Hy het die aap gegryp en na sy huis gehardloop. Beamptes van die DBV het geduldig buite gewag, waarna die eienaar teruggekeer het met die aap.

Hy het aan hulle gesê “sy voorvaders” het aan hom gesê hy kan die aap maar aan dié beamptes gee.

Die aap was ondervoed en het slegs een keer per dag 'n bakkie pap en water gekry. Daar was ook brandplekke aan sy hande omdat hy die heeldag in sonskyn en koue weerstoestande op die paal gesit het met ‘n tou, wat aan ‘n band om sy nek vasgemaak was. Dié bandjie was styf om sy nek en dit is wonderbaarlik dat hy nie daardeur verwurg is nie, sê sy.

Volgens Meyer gaan dit goed met die aap wat vandag (Woensdag) op pad na 'n rehabilitasiesentrum in Gauteng is, waar hy verder gaan aansterk. Hy sal dan in nog ‘n rehabilitasiesentrum vir ape in Limpopo in die natuur vrygelaat word.

Meyer sê die eienaar sal ook aangekla word omdat hy nie ‘n permit gehad het om die aap aan te hou nie.

Mense wat geld wil skenk, wat gebruik gaan word om die aap te hervestig, kan die DBV in Bloemfontein by (051) 447-3801 bel.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.