On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Local News

Man steeds vermis ná skietery op NW-plaas

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:22 Tue, 19 Sep 2017

Man steeds vermis ná skietery op NW-plaas  | News Article

'n Jong verdagte, wat aangekeer is in verband met 'n beweerde skietvoorval waarin 'n man glo op 'n plaas in die Mooinooi-gebied in Noordwes gewond is en spoorloos verdwyn het, bly in aanhouding.


'n Verdagte, wat aangekeer is in verband met 'n beweerde skietvoorval waarin 'n man glo op 'n plaas in die Mooinooi-gebied gewond is en verdwyn het, bly in aanhouding. Die 24-jarige Matthew Benson sal na verwagting eerskomende Vrydag in die Brits-landdroshof aansoek om borgtog doen. Hy het gister vlugtig op 'n aanklag van poging tot moord verskyn nadat hy Saterdag in hegtenis geneem is. Hy het glo op 2 Augustus die 24-jarige Tebogo Ndlovu van Majakaneng gewond. Polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, sê Ndlovu en twee ander mans het glo lemoene op 'n plaas gesteel. Benson het skote in hulle rigting afgevuur.

Ndlovu is gewond en die twee ander mans het hom daar gelos en laat spaander. Die voorval is twee dae later aan die polisie gerapporteer.

Mokgwabone sê Benson is ná 'n deeglike ondersoek in hegtenis geneem. Hy kon nie bevestig waar Benson in hegtenis geneem is nie, maar het wel gesê Benson het sy samewerking aan die polisie gegee.

Die polisie werk nou saam met Benson se familie sedert die ondersoek begin het. Hulle het ook gister se hofverrigtinge bygewoon. Mokgwabone vra enigeen met inligting oor waar die vermiste Ndlovu hom bevind, om die ondersoekspan by 082-416-0767 of hul naaste polisiekantoor bel.

Mokgwabone sê intussen is twee verdagtes, onderskeidelik 39 en 40, laat gaan nadat hulle in hegtenis geneem is toe openbare geweld in die gebied uitgebreek het ná dié beweerde skietvoorval. Die hof het die saak uitgegooi.

Dit kom nadat gewelddadige betogings deur lede van die plaaslike gemeenskap uitgebreek het. Mokgwabone sê dit is onduidelik of die betogings uit die skietvoorval spruit, maar die N4-, R104- en R566-paaie is is met voorwerpe versper en vyf voertuie is aan die brand gesteek.

Die twee verdagtes was deel van betogers wat motors glo met klippe bestook en paaie versper het. Twee vragmotors en 'n bakkie is aan die brand gesteek.

Mokgwabone vra enigiemand met inligting oor waar die vermiste Ndlovu hom bevind om hul naaste polisiekantoor te bel.


OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.