Local News
Egpaar vas ná Hennenman-moord─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:24 Mon, 06 Feb 2017

Hennenman - Die polisie in die Vrystaat het hul goed van hul taak gekwyt toe ‘n egpaar gister aangekeer is kort nadat ‘n 54-jarige afgetrede werknemer van ‘n myn se lyk in sy huis op Hennenman gevind is.
Polisiewoordvoerder, Mamello Mokhuoane, sê die polisie-ondersoek is uitgebrei kort nadat Wilfred Edward Ernsting se lyk omstreeks 18:00 in ’n plas bloed in sy slaapkamer deur ’n bekommerde buurman gevind is. Mokhuoane sê die buurman het onraad vermoed toe hy ‘n vreemde man en vrou met Ernsting se Opel Astra by sy erf sien uitry het. Die buurman het ondersoek gaan instel en Ernsting se lyk deur ‘n vensterruit op die vloer gesien. Sy hande en voete was vasgebind. Sy lyk was met ‘n laken bedek. Daar was baie bloed. Mokhuoane sê polisiebeamptes was vinnig om op inligting te reageer dat Ernsting se beweerde gesteelde motor naby Phomolong gewaar is.
Polisiehonde van die Welkomse honde-eenheid het die verdagtes se spoor gevolg tot by ‘n plaaslike begraafplaas, nie ver van die plek waar Ernsting se motor gevind is nie. Sy sê ’n 52-jarige man en sy 28-jarige vrou is omstreeks 22:00 by ‘n graf in hegtenis geneem. Die polisie het op twee identiteitsdokumente van Ernsting beslag gelê. Dié dokumente is by die graf in die grond begrawe. Ernsting se motorsleutels is ook in ‘n bos by die begraafplaas gevind.
Mokhuoane sê ‘n nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die moord bepaal. Die verdagtes verskyn binnekort in die rondgaande hof op Hennenman. OFM-nuus verneem die verdagtes was aan Ernsting bekend.
Ernsting is op die toneel dood verklaar. Sy naasbestaandes is ook in kennis gestel.
OFM-nuus