General
Hou jou kinders só veilig dié nuwe skooljaar─── 08:13 Mon, 15 Jan 2024
“Volg hierdie wenke om jou kinders veilig te hou terwyl hulle skool toe en terug is.”
In Sentraal-Suid-Afrika begin die nuwe skooljaar op 17 Januarie, en tesame met die opgewondenheid onder leerders wat uitsien na nuwe vriende en nuwe ervarings, is ouers bekommerd oor hul kinders se veiligheid, veral op pad skool toe en terug.
“Ouers kan hul kinders daarop voorberei om gevaar te vermy,” sê Charnel Hattingh, Fidelity ADT se hoof van kommunikasie en bemarking. “Daar is stappe wat ouers kan doen om seker te maak hul kinders weet presies hoe om moontlike gevaar te vermy en wat hulle moet doen ingeval iets met hulle gebeur.
Twee vaar beter as een
- Kinders moet altyd saam met ’n maat of twee skool toe en terug stap. As jou kind alleen stap, vra ’n onderwyser of ’n mede-ouer of daar ander kinders in die omgewing is wat skool toe stap. In sommige buurte het ouers “stapbusse” begin, waar ouers vrywillig saam met ’n groep skoolkinders skool toe en terug stap om hul veiligheid te verseker.
- Hou by strate wat jy ken en moenie kortpaaie deur onbekende of stil gebiede kies nie.
- Kinders, as julle by die skool opgelaai word, wag altyd binne die terrein tot jul vervoer opdaag.
- Onthou, jou ouers sal nooit iemand stuur wat jy nie ken om jou te kom haal nie. Moet nooit in ’n vreemdeling se voertuig klim nie, selfs al beweer hulle dat iemand vir wie jy lief is, seergekry het en dat hulle veronderstel is om jou op te laai. Gebruik ’n wagwoord om te verseker die persoon wat jou kom haal, is iemand wat jou ouers vertrou.
- Wanneer ’n vreemdeling jou nader, moenie met hulle praat nie, maak nie saak hoe vriendelik hulle lyk nie. As iemand jou probeer gryp, baklei en skop en skree dat hulle nie jou ma of pa is nie.
- Wanneer kinders alleen tuis is tot Ma en Pa tuiskom, is dit belangrik dat hulle weet om niemand in die huis in te laat sonder jou toestemming nie.
- Bêre ’n lys van belangrike telefoonnommers op jou kind se selfoon of plak dit naby die landlyn op. Verduidelik vir hulle wanneer dit gebruik moet word.
“Dit is ook belangrik dat almal in die huishouding weet hoe om die alarmstelsel te gebruik en wanneer en hoe om paniekknoppies te gebruik.”