On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

General

Maak só einde aan kletspraatjies op kantoor

───   15:00 Fri, 19 May 2023

Maak só einde aan kletspraatjies op kantoor | News Article
FOTO: Shutterstock

Ons was almal al daar – vasgevang in ’n irriterende eenrigtinggesprek met ’n kollega wat nie besef jy is baie besig nie. Daar is wel maniere om jouself op ’n beskaafde manier te verskoon.

Probeer verstaan 

Eindelose gesels is dikwels ’n teken van onsekerheid en onvervulde behoeftes, sê Rhymer Rigby, skrywer van The Careerist: Over 100 Ways to Get Ahead at Work. As ’n kollega byvoorbeeld nie baie aandag van die baas kry nie, sal sy pratery minder raak as hy meer erkenning en aanmoediging kry.

’n Verhoudingskenner, Seema Hingorrany, (2de skakel) sê mense wat deur moeilike fases in hul lewe gaan, is geneig om baie te praat. "Laat hulle toe om hul gevoelens uit te stort, want dit sal hulle nie net help om dit te verwerk nie, maar ook verhoed dat hulle in die toekoms steeds daaroor praat – terwyl jy moet luister.”

“Baie mense sien werk as ’n sosiale uitlaatklep. Miskien het hulle nie vriende nie of woon hulle alleen. By die kantoor kan hulle sosiaal met mense omgaan,” sê dr. Alan Cavaiola, medeskrywer van Toxic Coworkers: How to Deal with Dysfunctional People on the Job.

Praat met jou kollegas

Jy is dalk só geïrriteerd deur die kletskous dat jy oortuig is hy of sy is vir almal 'n irritasie. Doen ’n peiling en vra jou kollegas of hulle dieselfde siening het. Indien nie, moet jy dalk die moeite doen om joune te verander. Maar as hulle saamstem, vra hulle hoe hulle dit hanteer.

Soek vir die goeie in die gesprek

Om praatjies te maak kan help om brûe en netwerke tussen mense te bou. Wees objektief en vra jouself af of daar waarde is in wat die persoon sê. Kan enige daarvan vir jou voordelig wees?

Dalk leer jy iets 

As iemand jou irriteer omdat hy of sy onvermoeid oor hulself praat met enigeen wat wil luister, is dit dalk die moeite werd om jou eie gevoelens te bevraagteken. Jy is dalk van nature beskeie, terwyl hy of sy selfversekerd en uitgesproke is, wat nie noodwendig slegte eienskappe is nie. Aan die ander kant, as hulle bloot onverpoos hul eie beuel blaas, ignoreer hulle vir jou eie gemoedsrus.

Hou ’n verskoning gereed

Elke spreker het 'n luisteraar nodig. As jy weet jy gaan die kantoor se kletskous op die lyf loop, berei solank jou ontsnappingstrategie voor. Ná drie minute kan jy sê: "Ek is jammer, Mike. Ek moet 'n oproep maak." Of: "Lekker om met jou te gesels, maar ek moet gou iets afhandel."

Stel ’n tydsbeperking 

Hierdie strategie gee jou ’n eerlike, maar beleefde wegkomkans. Sodra die gesprek begin, sê: “Ek wil baie graag hoor wat jy te sê het, maar ek het net twee minute tot my beskikking” – dan hoef jy nie tien minute later rond te val vir ’n flou verskoning nie.

Maak hulle bewus van die probleem

Baie mense het geen idee van die uitwerking wat hulle op kollegas het nie. Neem Betsie Baiepraat opsy en verduidelik dat jy dink sy is 'n goeie kollega en doen 'n fantastiese werk, maar dat haar geselsery soms in die pad van werk staan. Pleks daarvan om te sê: "Jy praat te veel," kan jy sê: "Ons hou almal daarvan om praatjies te maak, maar soms belemmer dit ons werk. So, kom ons fokus op werk."

Wees reguit

Mense wat selfbehep is, het dikwels ’n dik vel en jou beleefde pogings om hulle stil te maak mag dalk geen uitwerking hê nie, sê Kat Bogaard in hierdie Fast Company-artikel. Wees reguit en knip hulle kort met: "Jammer, ek moet nou werk." In ’n vergadering of waar ’n groep mense deur ’n kletskous gevange gehou word, kan jy tussenbeide tree met: "Gert wil ook iets sê, kom ons gee hom ’n kans om te praat."

Onderbreek die monoloog

Ontwrig die vloei van woorde voordat dit ’n vloedgolf word. Maak oogkontak en maak jou mond effens oop asof jy gereed is om iets te sê. As dit nie werk nie, lig jou wysvinger op om aan te dui dat jy die gesprek wil onderbreek. Vra toestemming: “Gee jy om as ek gou iets sê?” of vra om verskoning: “Jammer om jou te onderbreek, maar ek wil gou iets sê.”

Stuur die gesprek in ’n ander rigting

Vleitaal is een van die beste strategieë om iemand se beheer oor ’n gesprek te ontwrig, sê dr. Evan Parks, ’n sielkundige en professor by die Michigan State University College. Byvoorbeeld: "Jou interessante storie oor jou hond het my laat dink aan wat met my gebeur het, kom ek vertel jou ...”

Moenie “oe” of “aa” nie

Positiewe terugvoer soos ’n kopknik of ’n “hmm” mag dalk net vir Karel Kekkelbek die verkeerde idee gee dat jy aan sy lippe hang. Deur subtiel negatiewe terugvoer – deur oogkontak te verbreek en rond te kyk of na jou horlosie te loer – bring jy die boodskap tuis dat die gesprek volgens jou verby is.

Smoor dit in die kiem

“Moenie jou 2c aanbied nie,” sê Jared Shelley in hierdie Convene-artikel. “Jy dink jy kan vinnig by die gesprek inloer, jou punt maak en weer uitklim, maar my raad is, moenie in die versoeking kom nie. Dit kan uiteindelik 'n lang gesprek wees."

Dra oorfone

Oorfone is 'n duidelike teken dat jy nie beskikbaar is om kantoorpraatjies aan te knoop nie. Dit help ook om oogkontak te vermy. “Ironies genoeg is dit dieselfde raad vir wanneer mense se pad met wilde diere in die natuur kruis,” sê Michael Kerr, skrywer van The Humor Advantage.

Ontsnap

As jou kollegas steeds nie jou grense respekteer nie, kom weg. Vra toestemming om van die huis of in ’n koffiewinkel te werk.

OFM Nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.