Entertainment
Vrystaatse skrywer se roman wys binnekort in fliekteaters─── KAREN VAN DER BERG 14:34 Wed, 09 Apr 2025

Om op jou 60ste verjaardag te hoor jou boek gaan in ’n fliek omskep word, is ’n groot vreugde en opwinding.
So vertel die Vrystaatse skrywer Zelda Bezuidenhout oor haar boek, Die dekonstruksie van Retta Blom, wat vanaf Mei as vollengte-fliek in sekere rolprentteaters landswyd gesien kan word.
Zelda vertel sy het presies drie jaar gelede die e-pos gekry waarin sy uitgevind het die filmregte vir haar boek is verkoop. “Dit is een van daardie drome wat op ’n dag ’n werklikheid geword het.” Sy woon reeds jare op Parys.
Die Vrystaatse skrywer Zelda Bezuidenhout. Foto verskaf
Daar het intussen drie jaar verloop en sy het baie dinge geleer. Sy het haar hand aanvanklik gewaag daaraan om die draaiboek self te skryf, maar dit het nie gewerk nie.
“Ek het net te veel woorde heeltyd gebruik. ’n Boek en draaiboek is twee heeltemal verskillende dinge.”
Ten einde raad het Henrietta Plattner (Gryffenberg) die draaiboek geskryf.
‘Die lewe, die liefde en die soeke na die ware self’
Zelda sê al was sy nie betrokke by die rolprentvervaardiging nie, was die proses selfs vir haar ’n leerkurwe. “Ek het geleer hoe moeilik dit is om geld bymekaar te skraap vir plaaslike produksies, hoe hard ons akteurs en filmspanne werk en hoe dun die rieme soms gesny moet word om die begroting te laat klop.”
Voorts sê sy syfers wys dat Suid-Afrika nie meer so graag uitgaan om te fliek nie. “Maar ek wil julle tog aanmoedig om na die fliek te gaan kyk. Dit sal lei tot interessante gesprekke oor die lewe, die liefde en die soeke na die ware self.”
Naomi Mokhele, van Sebabatso Media, wat die rolprent bemark, sê dit beloof om gehore diep te laat nadink oor liefde, selfontdekking en tweede kanse.
‘Hoe mense se lewe uitmekaarval en hoe mense weer van vooraf begin bou’
Die Swartlander Pieter Grobbelaar is die regisseur en lynvervaardiger. Hy sê hy wou grense verskuif. “Ek wou die koevert van wat ’n Afrikaanse film veronderstel is om te wees, oopskeur.”
Hy sê die storie handel oor hoe mense se lewe uitmekaarval en hoe mense weer van vooraf begin bou.
Dit begin 23 Mei in uitgesoekte SterKinekor- en Nu Metro-teaters landwyd en en in Namibië draai. Die ouderdomsbeperking is 16.