On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Groot ontwrigting weens ongewone Vrystaatse reën

───   KAREN VAN DER BERG 13:06 Thu, 24 Apr 2025

Groot ontwrigting weens ongewone Vrystaatse reën  | News Article
René van Loggerenberg, van Petrusburg, het Donderdag op paaie in die distrik Fauresmith gery. Foto: René van LoggerenbergL

Ongekende en buitengewone reënval oor die Vrystaat lei tot chaos, oorstromings en ontwrigting.

Skolesport word afgestel, skoolterreine is onder water, mense op plase is vasgekeer, damme is oorlopens toe vol, paaie dwarsoor die provinsie oorstroom en landerye waar dringend geoes moet word, is onbegaanbaar.

Die onafhanklike weerkundige Johan van den Berg sê die reën is abnormaal vir April. Die gemiddelde reën hier vir die maand is 30-40 mm, met ’n bietjie hoër reënval na die ooste toe. Oor groot dele van die Vrystaat het oor die 100mm reën die afgelope twee dae geval. “Met ander woorde oor net die laaste twee dae was die reënval dubbel die normale hoeveelheid.”


Dit lyk wel of daar bietjie opklaring gaan wees, maar verdere reën word vir die eerste week in Mei voorspel.

Van den Berg sê om dinge te vererger, gaan die reën wat geval het ’n baie nadelige uitwerking op die stropery hê. Dit is veral die sojabone in landerye wat nou begin afgaan. “Baie van die bone begin al uitloop om weer in die peul te begin groei.”

Hy sê hopelik wanneer die mielies later gestroop moet word, gaan dit beter. “Op die oomblik is lande onbegaanbaar.”

Die foto’s is in die distrik Reitz geneem. MJ Lourens sê hulle het die afgelope twee dae 100 mm reën gekry. Foto: MJ Lourens

Deon van Wyk, sporthoof van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, beskryf die ontwrigting aan skolesport as “verskriklik”. “Skole se ligabepalings vir die jaar word reeds lank vooruit gedoen.

“Die reën en bykomende vakansiedae maak dinge baie moeilik vir skole dwarsoor die provinsie. Maar ons kan nie hierdie dinge voorspel nie, en (eindelik) bly die leerlinge se veiligheid vir ons die eerste priotiteit.”

Van Wyk sê skole se geriewe en sportfasiliteite moet ook opgepas word. “Grasperke kan ook net soveel reën vat en dan word dit beskadig.”

Wat bydra tot die ontwrigting is die weerlig en donderbuie wat met die reën gepaard gaan. “Ons is beslis nie gewoond aan hierdie tipe weer nie. In die verlede het ons dit so dan en wan gesien, maar op die oomblik gaan die weerlig reeds vir twee weke gepaard met die reën.”

Hy sê hoewel hierdie weersomstandighede uitsonderlik is, hoop die skool om wel die sport in die komende weke in te werk. “Die kinders wat betrokke is, wil almal net graag sport speel.”

MJ Lourens, wat in die distrik Reitz woon, sê hy het lanklaas soveel reën gesien. Paaie in hulle distrik is onder water en verskeie plase is afgesny van die buitewêreld.

Die Fauresmith-omgewing is papnat en prentjiemooi. Foto: René van Loggerenberg

René van Loggerenberg, van Petrusburg, het Donderdag op paaie in die distrik Fauresmith gery. Sy sê die omgewing is papnat en prentjiemooi. Daar is damme water en rivierstrome op plekke waar dit gewoonlik kurkdroog is.

• Inligting volgens ’n gemeenskapsveiligheidsgroep:

Koppiesdam is tans 160% vol en die uitvloei is 557 m³/s. Gebruikers en gemeenskappe stroomaf moet gewaarsku word.

Erfenisdam is 113% vol en die uitvloei is 247 m³/s.

Vaaldam is op 111% en ’n vierde en vyfde sluis word vandag oopgemaak.

Bloemhofdam is op 107% en geleidelike verhogings in uitvloei sal vandag geïmplementeer word, wat tot 1800m³/s teen vanmiddag kan bereik.

Die Gariepdam is 106.9% vol en die uitvloei is 403 m³/s, terwyl Vanderkloofdam 105% vol is met ’n uitvloei van 445 m³/s.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.