Central SA
Bloemfonteiner dan gegroet ná pa hom glo skiet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:16 Thu, 24 Apr 2025

Die Bloemfonteiner wat in die hospitaal beswyk het twee dae nadat sy pa hom na bewering geskiet het, word Vrydag (25/4) ter ruste gelê.
Erich Bruhns (56), ’n sakeman van Bainsvlei, is Maandagaand (21/4) in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorlede. Sy pa, Gert Bruhns (85), het hom na bewering Saterdagoggend (19/4) in die nek geskiet ná ’n rusie by hul huis in Meadhurstlaan, Bainsvlei.
Gert het Dinsdag (22/4) vir die eerste keer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklag van moord. Die saak is tot volgende Dinsdag (29/4) uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Erich se vriendin van die afgelope vyf jaar, Amelia Hattingh, het vroeër aan OFM Nuus gesê die aanloop tot die voorval het reeds Woensdag begin nadat Erich gereël het dat ’n helper sy pa se huis skoonmaak.
Gert en sy seun het op dieselfde erf in afsonderlike huise gewoon.
Volgens haar het sy bejaarde pa geïrriteerd geraak met die helper wat so lank neem, waarna Erich aan hom probeer verduidelik het dat die huis deeglik skoongemaak moet word weens die vuil toestand.
Erich Bruhns. Foto: Facebook
Hattingh het gesê die onenigheid het toegeneem naby ’n groot sementgat op die eiendom, waar bouwerk aan die gang was. “Erich se pa het hom gestamp, en Erich het hom gegryp om te keer dat hy in die gat val. Die oom het geval en sy kop en vinger beseer.”
Gert het daarna ’n klag van aanranding teen sy seun gelê. Volgens Hattingh is sy na die polisiekantoor waar sy en Gert ook vasgesit het.
Beamptes het haar glo gevra om die perseel te verlaat en gesê hulle moet die bejaarde man beskerm. “Die polisie het ’n verklaring by die huis kom aflê en Erich het vir hulle gesê sy pa het ’n geweer in sy kas gehou en gedreig om hom te skiet.
Amelia Hattingh. Foto: Facebook
“Hulle het gesê hulle kan nie die wapen verwyder nie en dat ander beamptes dit sal kom haal. Maar niemand het ooit gekom nie.”
Uit vrees vir hul veiligheid het Hattingh en Erich beplan om alternatiewe verblyf vir sy pa te vind.
Die paartjie was Saterdagoggend op pad Clarens toe en terwyl hulle besig was om ’n paar goed in die bakkie te pak, het hulle omgedraai en gesien hoe Gert daar staan met ’n geweer. “Sonder waarskuwing het hy Erich in die nek geskiet,” het sy beweer.
Pa in hegtenis geneem nadat hy van toneel vlug
Erich is na die hospitaal gehaas, maar het Maandag in die Pelonomi-hospitaal aan sy beserings beswyk.
Ten spyte van die gebeure vroeër daardie week, het Hattingh gesê Gert het elke aand sesuur saam met hulle geëet. Erich se ma is drie jaar gelede oorlede.
Gert is in hegtenis geneem nadat hy van die toneel gevlug het. Die polisie het hom naby die N1 aangekeer en beslag gelê op ’n gelaaide vuurwapen en ekstra ammunisie tydens die inhegtenisneming. Erich word oorleef deur twee seuns en ’n dogter.
OFM Nuus cg