On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Drie in Reddersburg-hof weens beweerde mensehandel van minderjarige

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:29 Wed, 23 Apr 2025

Drie in Reddersburg-hof weens beweerde mensehandel van minderjarige | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Een van die drie beskuldigdes in ’n mensehandelsaak is die neef van die minderjarige slagoffer. Die verdagtes sal na verwagting weer Dinsdag (29/04) in die hof verskyn vir ’n formele borgaansoek.

Degete Erdedo Hadero (39), die slagoffer se neef, Mustafa Maisi (35) en Serious Katema (30) het Dinsdag in die Reddersburgse landdroshof verskyn op aanklagte wat met mensehandel verband hou, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, provinsiale polisiewoordvoerder. 

“’n Operasie wat deur die departement van binnelandse sake en Reddersburg se polisie uitgevoer is op 17 April het tot die inhegtenisneming van die drietal gelei. Met hul aankoms by ’n bepaalde snoepwinkel het beamptes ontdek dat die slagoffer as ’n skoonmaker werk. 

Foto ter illustrasie: iStock

“Die minderjarige verdien na bewering R1 000 per maand, maar dié loon is aan sy neef in Bloemfontein betaal,” sê Mohobeleli.

Hadero, die winkeleienaar, is op die toneel in hegtenis geneem. Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van Maisi en Katema, albei Malawiese burgers, Maandag (21/04) vir die uitbuiting van die minderjarige deur kinderarbeid. 

Albei die beskuldigdes is in Bloemfontein aangekeer.

‘Werk weens armoede, gesinsomstandighede of mensehandelnetwerke’

Volgens ’n 2023-verslag deur ecoI.net is ongeveer 15% van Suid-Afrikaanse kinders van vyf tot 14 by kinderarbeid betrokke, oftewel meer as 1,5 miljoen kinders. Amper 18% van kinders tussen sewe en 14 balanseer skool met die een of ander soort werk. 

Baie van die kinders word gedwing om te werk weens armoede, gesinsomstandighede of mensehandelnetwerke.

Die Business and Human Rights Resource Center berig dat ’n kommerwekkende 70% van kinderarbeidgevalle in Suid-Afrika in die landbousektor voorkom, waar kinders betrokke is by boerderyaktiwiteite soos plant, oes en verwerking van produkte soos mielies en vrugte. 

Foto ter illustrasie, iStock

Ander help om tekstiele en komberse te vervaardig, of werk in die dienstesektor as huishulpe, straatsmouse of kosverkopers. Volgens die Suid-Afrikaanse departement van indiensneming en arbeid het KwaZulu-Natal die hoogste koers van kinderarbeid, terwyl die Wes-Kaap die hoogste getal kinders het wat nie skool bywoon nie.

Die uitbuiting stop nie by fisieke arbeid nie. Kinders word ook verhandel en tot die ergste vorme van arbeid gedwing, insluitend kommersiële seksuele uitbuiting, pornografie en bendebedrywighede, volgens ecoI.net.

Net in 2022 het 20% van die 2 408 sake wat by die Suid-Afrikaanse nasionale mensehandel-blitslyn aangemeld is met kinderhandel verband gehou.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.