On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Amper R2,1 miljard geoormerk vir Vrystaatse paaie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:37 Thu, 27 Mar 2025

Amper R2,1 miljard geoormerk vir Vrystaatse paaie | News Article
Foto: GroundUp

Die Vrystaat se nuwe padbegroting sal streng monitering vereis.

So sê die DA-wetgewerlid Werner Pretorius nadat R2,089 miljard vir die 2025/26-boekjaar geoormerk is. Die ouditeur-generaal (OG) se verslae dui op R350 miljoen se onreëlmatige besteding en ’n onbestede R104 miljoen in die 2023/24-boekjaar.

Die Vrystaatse departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer se bestuurshoofde het Dinsdag (25/3) voor die provinsiale wetgewer se openbarerekeningekomitee verskyn.

Pretorius vra egter beter bestuur, gereelde monitering en dat projekte vooraf geëvalueer word.


Na raming sal die provinsiale padinstandhoudingstoelae, wat uit ’n nasionale fonds kom, in 2025/26 se konsepbegroting 0,8% hoër wees as die vorige jaar. Dit gaan egter in die volgende jare skerp afneem, want in 2026/27 sal net R1,46 miljard begroot word, oftewel 29% minder.

Pretorius sê die departement kan in 2025/26 ’n tekort van R837 miljoen verwag. Met dié dat padprojekte jare kan duur om te voltooi, sal die tekort in 2026/27 en 2027/28 aansienlike uitdagings skep. Die tekort spruit hoofsaaklik uit geld wat aan die nasionale tesourie terugbetaal moet word.

Terwyl die oordrag van 670 km se paaie na die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) verwelkom word, beklemtoon Pretorius dat waarde vir geld die prioriteit moet wees, veral nadat miljoene bestee is aan die Steynsrus-Kroonstad-pad met weinig resultate.

Werner Pretorius. Foto Facebook

R350 miljoen se onreëlmatige uitgawes spruit uit verkrygingskwessies omdat behoorlike prosesse nie gevolg is nie, sê Pretorius. “Bekwame kontrakteurs moet gekies word om gehaltepaaie te verseker wat betyds voltooi moet word.”

Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, het gesê die toestand van paaie word beïnvloed deur swaar vragmotors, veral dié wat mangaanerts vervoer. “Dié vragmotors veroorsaak aansienlike skade, maar die provinsie het net twee weegbrûe, op Senekal en Heilbron. Mbalula het gevra vir beter toepassing om oorlading te beheer,” sê Pretorius.

LEES OOK: DA verwelkom Vrystaatse paaie se oorhandiging aan Sanral

Die totale begroting vir die departement is R3,8 miljard. R1,6 miljard word vir lopende projekte geoormerk.

Volgens Pretorius is 30 padbouprojekte aan die gang, terwyl vyf voltooi is hoewel sommige betalings nog uitstaande is. “Die departement word volgens hom gekniehalter deur ’n gebrek aan toerusting. Baie verkeersbeamptes kla dat hulle ’n tekort aan papier, drukkers en uniforms het en dat die vlootvoertuie nie vervang word nie. Daarbenewens is die instandhouding van die 80 geboue, insluitend lisensiekantore, moeilik weens onvoldoende geld.”

Pretorius benadruk die belangrikheid van sigbare verkeersbeamptes op hoofroetes om padveiligheid te verseker en ongelukke te voorkom.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.