Central SA
Kamma-makelaar van Noord-Kaap uit op R50 000 borgtog─── 11:32 Thu, 27 Mar 2025

'n Noord-Kapenaar moet weer op 12 Mei in die hof verskyn nadat hy beleggers na bewering uit R2 miljoen bedrieg het.
Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdade het Ruan Maritz (30) van Hartswater Dinsdag (25/3) op aanklagte van bedrog en geldwassery in hegtenis geneem, sê kol. Tebogo Thebe, provinsiale Valke-woordvoerder.
Maritz het hom na bewering aan die klaers en ander vermeende slagoffers voorgedoen as ’n makelaar vir Quick Trade Investment and Forex Trading. Luidens die beleggingskontrak sou hy, as beleggers 50% belê, dieselfde persentasie bydra, vertel Thebe, maar dié belofte het hy nie gestand gedoen nie, sê Thebe.
Die verdagte het Woensdag vlugtig voorgekom in die landdroshof op Hartswater, waar R50 000 borgtog aan hom toegestaan is.
Ruan Maritz is uit op borg. Foto verskaf
Intussen kom ’n Bloemfonteinse sakeman na verwagting Vrydag voor in die plaaslike landdroshof op soortgelyke aanklagte weens belastingsontduiking.
’n Dagvaarding om in die hof te verskyn is Maandag aan die 70-jarige beteken, sê ao. Fikiswa Matoti, Vrystaatse Valke-woordvoerder. As kurator van ’n familietrust het hy na bewering van 2016 tot verlede jaar geen opgawes ingedien vir BTW of inkomstebelasting nie en die SA Inkomstediens ’n verlies van R70 miljoen laat ly.
Nadat ’n dossier in Bloemfontein oopgemaak is, is die saak aan die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdade oorhandig.
Bedrieglike BTW-opgawes
Amukelani Nicolas Malumgani, ’n Kimberleyse sakeman, is op Woensdag 6 Maart in die handelshof tot ses jaar effektiewe tronkstraf gevonnis vir belastingbedrog van meer as R1,7 miljoen, het Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder, drie weke gelede gesê.
“Malumgani het skuldig gepleit op twee aanklagte van oortreding van Artikel 235 van die Wet op Belastingadministrasie vir twee bedrieglike BTW-opgawes wat namens ’n entiteit genaamd Franti General Trading BK by die SAID ingedien is.”
Die bedrieglike opgawes is ingedien vir die BTW-tydperke van Junie en Augustus 2019. Die inkomste wat ontvang is, is nie aan die belastinggaarder verklaar nie, wat die SAID ’n werklike verlies van R1 724 609 laat ly het.
Volgens Senokoatsane het Malumgani ook skuld beken op ’n aanklag van geldwassery vir die ontvangs van opbrengs van misdaad ter waarde van R399 641.