Click on the warning image to view this post
Central SA
Klagte kom ná wrede dood van tier by Noordwes-sentrum─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:10 Thu, 27 Mar 2025
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) samel bewyse in om ’n formele klag in te dien nadat ’n tier by ’n teelsentrum in Noordwes aangeval en van kant gemaak moes word.
Die NDBV het glo ’n groot tiertelingsentrum in Klerksdorp besoek nadat ’n tier wreed deur ’n ander tier aangeval is. Die beseerde tier het ernstige wonde aan haar bolyf, keel en nek opgedoen, sê Jacques Peacock, NDBV-woordvoerder.
“Na aanleiding van ’n opvolginspeksie om die toestande te bepaal en te verseker dat die beseerde tier behoorlike sorg ontvang, het ons bevind dat haar toestand so erg was dat ons haar van kant moes maak.”
Ellende was erg
Die instelling huisves meer as 80 tiere.
Volgens Peacock was die tier se ellende so erg dat wanneer kos voor haar geplaas was, sy gesukkel het om te loop. “Hierdie tier is erg verwaarloos en het erge pyn verduur. Boonop het die sentrum se eienaars niks gedoen om in te gryp nie. Dié voorval toon die nare werklikheid agter Suid-Afrika se kommersiële roofdierbedryf.”
Hy sê die beseerde dier het aan haar voorpote begin knaag en aan die sere gelek en gekrap. Die tier het ook intussen al haar naels verloor en kon skaars beweeg.
Waarskuwing: Die volgende video is nie vir sensitiewe mense nie.
“Die lyding van hierdie tier het nie oornag gebeur nie. Ons vermoed dat haar toestand oor ’n paar dae vererger het, wat haar uiteindelik verswak het tot op die punt wat ons niks meer vir haar kon doen nie.”
Volgens Peacock het die NDBV se wildbeskermingseenheid probeer om die tier se karkas vir ’n nadoodse ondersoek te neem, maar die eienaar van die sentrum het glo geweier en die NDBV verbied om die karkas weg te neem. Die eienaar het na bewering gesê dat die karkas “geld is”.
Die tier se poot. Foto: Facebook
“Die … eienaar kon geen permitte vir die tiere verskaf nie, wat onmiddellik kommer wek oor die nakoming van nasionale en internasionale bewaringsregulasies. Die instelling is al lank onder verdenking vir betrokkenheid by die onwettige handel in roofdierbene en ander misdadige bedrywighede.
“Ten spyte van gereelde inspeksies het wetlike skuiwergate en die versuim van die provinsiale regering om voldoende welsynstandaarde af te dwing, sulke bedrywighede toegelaat om voort te gaan onder die dekmantel van wettige teling,” sê Peacock.
Hy sê Noordwes se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing, bewaring en toerisme het die terrein die afgelope maand geïnspekteer.
Die tier nadat hy van kant gemaak is. Foto: Facebook
Peacock het gesê tiere moet beskerm word kragtens die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Cites, wat die handel in tierbene en ander neweprodukte streng reguleer om die uitbuiting daarvan in wêreldhandel te voorkom.