Central SA
Insameling vir nuwe wiele vir ma wat dogter in ongeluk verloor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Thu, 27 Mar 2025

Die vrou wat die motor bestuur het waarin drie kinders hul lewe in ’n ongeluk verloor het, het dringend ’n nuwe voertuig nodig.
’n Geldinsameling is begin om Adri Jonck te help om ’n nuwe motor te koop nadat haar motor in die botsing op 24 Januarie afgeskryf is.
Jonck was met haar Chevrolet Spark onderweg om haar dogter, Leané van Papendorp (8), en dié se nefies, Ayden (8) en Ryan Smit (6), en nog ’n maatjie, Tennique Joubert (6), by die skool af te laai toe ’n Toyota Hilux in haar motor vasgery het op die kruising van die N8 en Krugerlaan naby Aljo se Superspar.
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charne van der Merwe
Presies wat dié noodlottige dag gebeur het, sal eers bekendgemaak kan word nadat die polisie hul ondersoek afgehandel het, maar niemand is nog aangekla nie.
Ryan en Leané is op slag dood, terwyl Ayden later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het. Jonck het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem. Al die kinders was leerders aan Primêre Skool Dr. C.F. Visser in Estoire.
Die enigste oorlewende kind, Tennique, was ná die ongeluk byna twee weke in ’n koma in Pelonomi. Haar milt moes verwyder word weens die erge impak. Sy is ná 19 dae ontslaan en is ook intussen terug skool toe.
Die Primêre Skool Dr. C.F. Visser het drie leerders verloor. Foto: Charne van die Merwe
Jonck se ma, Tinkie Jonck, het ’n BackaBuddy-veldtog begin om geld vir ’n nuwe motor in te samel. “Ongelukkig het Adri nie versekering gehad nie, wat haar sedert die ongeluk sonder vervoer gelaat het.
“Nou is sy afhanklik van haar familie om haar werk toe en terug te neem in Heuwelsig, wat elke dag ’n heen-en-weerreis van 120 km is.”
Die veldtog is genoem ter ere van die drie kinders: “L A R ’n rit vir Adri!” Die L staan vir Leané, die A vir Ayden en die R vir Ryan.
Die motor ná die ongeluk. Foto verskaf
Benewens die praktiese uitdagings sukkel Adri ook met ’n groot emosionele struikelblok: ’n diep vrees vir bestuur, vertel Tinkie. “Sy is bang om weer te ry en ook bang om self die motor te bestuur. Omdat dit die enigste vervoer wat ons oor het, is sy bang iets gebeur.”
Tinkie verduidelik dat die doel van die insameling is om R250 000 in te samel om ’n betroubare, brandstofdoeltreffende voertuig aan te skaf, verkieslik ’n groter motor as Adri se vorige. “Sy het vir my gesê: ‘Ma, as ek ooit ’n ander motor kry, wil ek nie hê dit moet weer so klein wees nie.’”
Teen Dinsdag (26/3) is meer as R12 000 reeds ingesamel.
Tennique Joubert. Foto: Facebook/Primêre Skool Dr. C.F. Visser
Hoewel hulle aanvanklik huiwerig was om finansiële bystand te vra, wetende dat baie goedhartige mense sou wou help, glo Tinkie die drie kinders sal bly wees om te weet hul ma en tannie sal weer ’n motor hê. “Hulle was mal daaroor om in haar motor te ry.”
Sy hoop die veldtog sal Adri nie net help om haar onafhanklikheid te terug te kry nie, maar ook die selfvertroue gee om weer sonder vrees te ry.
Indien jy graag ’n bydrae wil maak, besoek die BackaBuddy-veldtog.