Central SA
Sakeman (70) hof toe oor beweerde taksbedrog─── 09:08 Wed, 26 Mar 2025

’n Bloemfonteinse sakeman kom na verwagting Vrydag (28/3) voor in die plaaslike landdroshof op aanklagte van bedrog en geldwassery.
Die 70-jarige, wat kurator van ’n familietrust is, het na bewering van 2016 tot 2024 die Wet op Belastingadministrasie oortree deur geen opgawes vir BTW, trustinkomstebelasting of inkomstebelasting in te dien nie, wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ’n verlies van R70 miljoen laat ly het, sê ao. Fikiswa Matoti, Vrystaatse Valke-woordvoerder.
Nadat ’n saakdossier aangelê is, is dit aan die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdade in Bloemfontein oorhandig vir verdere ondersoek. ’n Dagvaarding is Maandag aan die beskuldigde beteken.
Munisipaliteit betaal nie SAID
Intussen weerhou die Nasionale Tesourie Tokologo-munisipaliteit in die Wes-Vrystaat se langverwagte billike toedeling omdat dié plaaslike owerheid op Boshof herhaaldelik in gebreke bly om verpligtinge jeens derde partye na te kom, waaronder betalings aan die SAID.
Die opposisie beplan om op die volgende raadsvergadering vrae aan die munisipale bestuurder te stel oor die voortgesette vertragings in salarisbetalings aan munisipale werknemers, sê Hismajesty Maqhubu, DA-raadslid. “Dié growwe wanbestuur het uiterste geldelike lyding vir werkers veroorsaak wat reeds sukkel weens die stygende koste van brandstof, voedsel en rente.”
Hy sê die vorige munisipale bestuurder het werkers tydig in kennis gestel wanneer hul salaris laat betaal sou word, sodat hulle skuldeisers vooraf in kennis kon stel en reëlings kon tref. “Maar hierdie keer is geen kennisgewing gegee nie, wat werknemers in ’n benarde finansiële posisie laat.”
Tokologo-munisipaliteit se hoofkantoor is op Boshof. Foto: Morné van Rooyen
Tokologo ondergaan ’n finansiëleherstelproses en is onder Artikel 139(5)(a) provinsiale ingryping geplaas, sê Maqhubu. “Ten spyte van die aanstelling van ’n bedrewe hoofadministrateur om toesig oor dié proses te hou, speel nóg die burgemeesterskomitee, nóg die munisipale oop kaarte.”
Die DA stel voor dat die munisipaliteit se organogram herrangskik word om onnodige waarnemende ampte uit te skakel wat personeelonkoste verhoog. “Dis finansieel onverantwoordelik vir so ’n klein munisipaliteit om 22 waarnemende senior amptenare of bestuurder te hê,” meen Maqhubu.
OFM Nuus mvh