Central SA
Verkragter van Colesberg kry 20 jaar─── MORNÉ VAN ROOYEN 11:14 Thu, 27 Feb 2025

Noord-Kaapse speurders onderneem om nog oortreders van gesinsgeweld aan die man te bring nadat ’n verkragter van Colesberg 20 jaar tronkstraf opgelê is.
Die streekhof op dié Noord-Kaapse dorp het Johannes Arends (37) Dinsdag (25/2) swaar gestraf nadat hy sowat sewe maande in aanhouding was.
Sy slagoffer (18) het vriende in die woonbuurt Riemvasmaak op 20 Augustus verlede jaar besoek. Toe sy omstreeks 21:00 besluit om huis toe te gaan, het Arends aangebied om saam te stap, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.
Colesberg se hoofstraat. Foto: Morné van Rooyen
By haar huis gekom, het hy haar gedreig en verkrag, en hom toe uit die voete gemaak. Sy het om hulp geroep, waarna ’n inwoner haar gehelp het om na ’n polisiekantoor toe te gaan en ’n klagte aanhangig te maak.
Speursers. Ilse Fan van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op De Aar het die ondersoek gelei. Saam met polisebeamptes op De Aar het hulle Arends opgespoor en in hegtenis geneem.
Tydens die vonnisoplegging Dinsdag is Arends ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit en sy naam word ook op die nasionale register van seksuele oortreders geplaas.
Speursers. Ilse Fan het die ondersoek gelei. Foto verskaf
Ehlers sê gesinsgeweld bly ’n prioriteit vir die polisie. “Speurders sal onvermoeid met aanklaers saamwerk om te verseker dat sake noukeurig ondersoek word en oortreders aan die kaak gestel word.”
Landwyd is in die derde kwartaal van die 2024/25-boekjaar 11 803 verkragtings aangemeld, 408 minder as ’n jaar vantevore. In die Noord-Kaap het verkragtingsake in dié tyd afgeneem van 328 tot 321.
Dié provinsie se verkragtingskoers van 23,8 gevalle per 100 000 inwoners is die derde hoogste in die land. Die Vrystaatse syfer van 28,4 per 100 000 inwoners is die naashoogste, terwyl Gauteng die laagste koers van 13,6 aangeteken het.
Meeste tuis verkrag
In alle provinsies het die meeste verkragtings voorgekom in die oortreder of oorlewende se woonplek, naamlik 5 711, gevolg deur 1 898 gevalle op openbare plekke soos ’n straat, veld, park of parkeerterrein.
Geen Noord-Kaapse of Noordwes-polisiekantore tel onder die 30 landwyd waar die meeste verkragtings in die derde kwartaal aangemeld is nie, maar Bloemspruit by Bloemfontein beklee die sesde plek met 64 gevalle, ’n toename van 8,5 vergeleke met ’n jaar vantevore.