Central SA
Beloning vir inligting ná bobbejaan se wrede dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:19 Tue, 11 Feb 2025
![Beloning vir inligting ná bobbejaan se wrede dood Beloning vir inligting ná bobbejaan se wrede dood | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/ecbc6b6a-0be8-483e-a45b-da88643eb38d.jpg?crop=0,131,600,469)
’n Beloning word aangebied vir inligting wat lei tot die suksesvolle vervolging van diegene wat verantwoordelik is vir die wrede en gewelddadige dood van ’n jong bobbejaan in Mpumalanga.
Die bobbejaanmannetjie Raygun is Vrydag (7/2) by Botleng Sekondêre Skool op Delmas doodgemaak en aan die brand gesteek is, sê Douglas Wolhuter, bestuurder van die wildbeskermingseenheid by die NDBV.
Hy sê hulle bied ’n beloning van R20 000 aan omdat die skool se bestuur, ten spyte van beeldmateriaal van die voorval, glo weier om die betrokkenes te identifiseer.
“Die skoolhoof weier om die name van die drie leerders te verskaf wat in die beeldmateriaal gesien word hoe hulle Raygun op die skooldak jaag. Die skool beweer tien kinders het vroeër die oggend flou geword, wat hulle laat glo het die bobbejaan is as deel van ’n towery gestuur.”
Die bobbejaanmannetjie, Raygun. Foto: Facebook
Talle video’s en foto’s het opgeduik wat wys hoe die leerders Raygun met voorwerpe gooi terwyl hy verward op die dak van die skoolgebou rondhardloop. “Daar is ook beeldmateriaal van die leerlinge wat hom met klippe bestook en hom skop, sê Wolhuter.
“In een besonder grafiese video word Raygun se tand uit sy mond geslaan terwyl die kinders om hom spring en skree. Sy liggaam is later verder vermink toe sekere ledemate verwyder is,” sê Wolhuter.
Ná ’n gesprek met die skoolbestuur het dit duidelik geword dat die voorval diep in bygeloof gewortel is. Bobbejane word met heksery vereenselwig.
‘Raygun het bloot vryheid in ’n nuwe omgewing gesoek’
Die NDBV is in kennis gestel dat die gemeenskap, wat na bewering die jag op Raygun begin het, die skool gevra het om hulle te laat weet as enigiemand by die skool probeer ondersoek instel na Raygun se dood.
“Raygun het bloot vryheid in ’n nuwe omgewing gesoek, iets wat alle bobbejane instinktief doen. Geen dier behoort ooit sulke pyn en lyding te verduur nie,” sê die NDBV.
Hulle het intussen Raygun se oorskot vir ’n nadoodse ondersoek gestuur.
Raygun se gewelddadige dood. Foto: NSPCA
Die NDBV moedig enigiemand met inligting oor die voorval aan om hom per e-pos te kontak by wild3@nspca.co.za. Alle wenke sal anoniem bly.
’n Versoekskrif waarin aanspreeklikheid geëis word, is Saterdag (8/2) deur Dr. Tristán Kapp op change.org begin. Teen Dinsdag (11/2) het byna 9 000 mense dit onderteken.
Die petisie vra administratiewe aanspreeklikheid en eis dat die skool se bestuur ’n interne ondersoek gelas om te bepaal hoe so iets toegelaat is om onder hul toesig te gebeur. Die tweede eis van is dat die skool ’n streng beleid teen dieremishandeling opstel en afdwing om te verseker dat alle leerders en personeel bewus is van die etiese en wetlike implikasies van sulke optrede.
Raygun hardloop verward op die skool se dak rond. Foto: NSPCA
Voorts word gevra dat die skool met plaaslike dierewelsynsorganisasies saamwerk aan opvoedkundige programme wat leerders die belangrikheid van wildbewaring en die menslike behandeling van diere leer.
Laastens word in die versoekskrif gevra dat gereelde oudits van die skool se beleide en praktyke rakende leerlinggedrag en etiek uitgevoer word, met deursigtige verslagdoening aan die skoolgemeenskap en die betrokke owerhede.
Jasper Zwane, Mpumalanga-onderwyswoordvoerder, het ’n verklaring uitgereik waarin gesê word dat die departement ’n volledige verslag van die skool aangevra het. “’n Besluit oor verdere stappe sal geneem word op grond van die verslag.”