On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse familie soek antwoorde ná jong ma se valdood

───   ZENANDE MPAME 07:00 Tue, 28 Jan 2025

Noord-Kaapse familie soek antwoorde ná jong ma se valdood | News Article
Keotshepile Buthelezi het haar doodgeval. Foto: Facebook/Tsholofelo Prudence

Naasbestaandes van ’n 22-jarige wat vanaf die vyfde vloer van ’n Kimberley-hospitaal se balkon geval en gesterf het, kan nie berusting vind voor hulle nie weet wat gebeur het nie.

Keotshepile Buthelezi se geliefdes wil by die provinsiale gesondheidsdepartement weet hoe dit gebeur het dat sy op Saterdag (18/1) vanaf ’n balkon op die vyfde verdieping van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal geval het, enkele dae nadat sy geboorte geskenk het.

Sy is Saterdag (25/1) in Laxey Village ter ruste gelê en laat ’n tien dae oue babadogtertjie agter. Buthelezi is na die staatshospitaal oorgeplaas nadat sy die Dinsdag voor haar dood postpartum-komplikasies in ’n gesondheidsorginstelling op Postmasburg ervaar het.

“As die departement het ons reeds met die familie van die oorledene ontmoet, ons opregte meegevoel met hulle betuig en ook berading aangebied,” sê Lebohanga Majaha, Noord-Kaapse gesondheidswoordvoerder. Die baba is gesond en sal binnekort in die sorg van haar familie ontslaan word.

Majaha sê niks dui op die oomblik op ’n misdaad nie, maar die departement werk steeds saam met die polisieondersoek. “Ons sal nie verdere kommentaar lewer totdat die ondersoek afgehandel is nie.”

Kimberley-polisie is in kennis gestel van die beweerde onnatuurlike dood in die hospitaal, maar toe hulle op die toneel aankom, het werkers blykbaar reeds die toneel skoongemaak, het Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder, kort ná die voorval gesê.

’n Gedenkdiens is Saterdag vir Keotshepile Buthelezi gehou. Foto: Facebook/Tsholofelo Prudence

 “Ons het ’n geregtelike doodsondersoek geopen, en die departement van gesondheid sal ook die saak ondersoek.”

Intussen is ’n Noord-Kaapse mensehandelaar in die hooggeregshof in Johannesburg tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis, saam met verskeie ander vonnisse vir bedrog en onwettige immigrasie.

Emmanuel Uzoaga (36), ’n Nigeriër, is Vrydag 17 Januarie skuldig bevind aan mensehandel, bedrog en oortreding van die Immigrasiewet. Hy is in 2021 in hegtenis geneem nadat iemand Upington se polisie ingelig het dat hy oorgehaal was om ’n 18-jarige per openbare vervoer na Johannesburg te neem, na bewering vir seksuele uitbuiting.

Albei Nigeriërs lank aangehou

“Die hoofbeskuldigde, Uzoaga, en sy medepligtige, James Ugwuoke (32), albei Nigeriese burgers, is sedert hul inhegtenisneming op Upington en in Johannesburg aangehou,” sê Nomthandazo Mnisi, Noord-Kaapse Valke-woordvoerder. 

“Die derde beskuldigde, Luzinda Abraham (27), was aanvanklik een van die drie geredde slagoffers, maar verdere ondersoek het onthul dat sy eintlik ’n rol in die misdaad gespeel het. Sy het die slagoffers onder valse voorwendsels uit Upington gelok.”

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.