Central SA
Bloemfonteinse tiener Vrydag gegroet ná hartoorplanting─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:19 Thu, 02 Jan 2025
Die Bloemfonteinse tiener wat oorlede is byna twee weke nadat hy ’n nuwe hart gekry het, word Vrydag (1/3), op sy verjaarsdag, ter ruste gelê.
Retshegofetse Unathi Marogoa (14) is Maandag (23/12) in die vroeë oggendure in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede. Volgens sy ma, Lerato Marogoa, wag die gesin nog op die uitslag van die nadoodse ondersoek.
Dié gr. 8-leerder aan Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein het op 15 Desember ’n hartoorplanting gekry, maar kort daarna het onverwagte komplikasies ingetree.
Retshegofetse is op 27 November in Milpark opgeneem ná ’n ineenstorting by die skool in September, het sy ma oor die begin van sy siekte vertel. “Ná ’n reeks mediese toetse het dokters vasgestel hy ly aan hartversaking.”
Retshegofetse saam met sy sussie, Reagoboka, en hul ma, Lerato Marogoa. Foto verskaf
Ná nog ’n ineenstorting het ’n hartspesialis in die Life Rosepark-hospitaal vasgestel sy toestand is kritiek en dat hy ’n oorplanting nodig het. Hy is daarna na die Johannesburgse hospitaal oorgeplaas, waar hy ’n nuwe hart ontvang het.
Lerato onthou haar seun as ’n borrelende kind met ’n pragtige geaardheid. “Ek sal hom onthou as die liefdevolste kind, wat altyd na ander omgesien het,” het sy gesê.
Retshegofetse was drie jaar agtereenvolgens Vrystaatse hoogspringkampioen in sy ouderdomsgroep. Op die provinsiale hoërskole-atletiekkampioenskap op 8 Maart verlede jaar was hy met ’n wensprong van 1,75 m die enigste o.14-atleet wat vir die SA skolekampioenskap gekwalifiseer het. Hy was ook ’n geesdriftige rugbyspeler.
Benewens sy ma word Retshegofetse deur sy suster, Reagoboka (5), oorleef.
’n Huisdiens Vrydag om 07:30 word gevolg deur sy begrafnisdiens in die Metodistekerk St. Thomas in Bloemfontein om 08:00.