On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse leerder op verjaardag begrawe ná hartoorplanting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:37 Thu, 26 Dec 2024

Bloemfonteinse leerder op verjaardag begrawe ná hartoorplanting | News Article
Retshegofetse Unathi Marogoa is ná 'n hartoperasie oorlede. Foto verskaf

’n Bloemfonteinse tiener wat ná ’n hartoorplanting gesterf het, word gegroet op sy verjaardag, 3 Januarie.

Retshegofetse Unathi Marogoa (14) is Maandag (23/12) in die vroeë oggendure in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg dood, sê sy ma, Lerato Marogoa.

Retshegofetse, ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein, het die hartoorplanting op 15 Desember ondergaan, maar het kort daarna onverwags diarree ontwikkel.

Die oorsaak van sy dood is onbekend terwyl die familie op die uitslag van die nadoodse ondersoek wag.

Retshegofetse is op 27 November in Milpark opgeneem nadat hy in September by die skool ineengestort het. Nadat hy talle toetse ondergaan het, het medici bevind hy ly aan hartversaking, vertel sy ma. 

Ná nog ’n ineenstorting by die skool is Retshegofetse in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein opgeneem, waar ’n hartspesialis vasgestel het sy toestand is so erg, hy het ’n hartoorplanting nodig. Hy is later na die Johannesburgse hospitaal oorgeplaas, waar hy ’n nuwe hart gekry het.

Retshegofetse saam met sy sussie, Reagoboka (5), en hul ma, Lerato Marogoa. Foto verskaf

Lerato beskryf haar seun as ’n borrelende kind met ’n ongelooflik mooi hart. “Ek sal hom onthou as die … liefdevolste kind wat altyd na ander omgesien het,” sê sy. “Hy het ’n hart van goud gehad.”

Retshegofetse was ’n talentvolle atleet wat drie jaar agtereenvolgens die Vrystaat se hoogspringkampioen in sy ouderdomsgroep was. Tydens die provinsiale atletiekkampioenskap vir hoërskole op 8 Maart vanjaar was hy eerste met ’n hoogte van 1,75 cm, die enigste atleet in sy groep wat vir die SA skolekampioenskap gekwalifiseer het. Hy was ook ’n kranige rugbyspeler.

Begrawe op verjaardag

Benewens sy ma word Retshegofetse oorleef deur sy jonger suster, Reagoboka (5). Begrafnisreëlings moet nog bekendgemaak word; sy ma kan net bevestig dat die teraardebestelling sal plaasvind op wat haar seun se 15de verjaardag sou gewees het.

Die Primêre Skool Brandwag in Bloemfontein, waar Retshegofetse sy laerskoolopleiding deurloop het, is een van die skole wat medelye betuig in ’n plasing op Facebook.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.