Central SA
Griekwastad-moordenaar nie geskik vir parool─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:27 Thu, 29 Aug 2024

“Omdat die oortreder 15 jaar oud was toe hy Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), doodgeskiet en haar ook verkrag het, kan sy naam weens wysigings aan die Strafproseswet nie genoem word nie.”
Die Griekwastad-moordenaar sal eers weer volgende jaar vir parool in aanmerking kom nadat vasgestel is hy is nie geskik om op parool vrygelaat te word nie.
Die oudleerling van Grey Kollege in Bloemfontein het op Goeie Vrydag 2012 drie lede van die Steenkamp-gesin op hul plaas, Naauwhoek, distrik Griekwastad, om die lewe gebring.
“Die gevangene het op 14 Desember 2023 voor die paroolraad verskyn,” sê Singabakho Nxumalo, korrektiewe dienste-woordvoerder. “Hy is egter verwys vir verdere profielontwikkeling aangesien hy nog ander programme moet voltooi.”
Marthella Steenkamp. Foto Facebook
Gevangenes doen nie aansoek om parool nie, verduidelik hy. Dis ’n outomatiese proses wat begin sodra ’n gevangene die minimum (50%) vereiste tyd uitgedien het.
“Die moordenaar het die minimum voorgeskrewe tydperk van sy vonnis uitgedien; daarom het hy vanself vir parool in aanmerking gekom. Hy was egter nie geskik vir paroolplasing nie, en nog profielontwikkeling asook bykomende programme moet gevolg word. Dit is wat in sy geval gebeur het.”
Omdat die oortreder 15 jaar oud was toe hy Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), doodgeskiet en haar ook verkrag het, kan sy naam weens wysigings aan die Strafproseswet nie genoem word nie.
Deon en Christel Steenkamp. Foto: Facebook
Ingevolge hierdie wysigings kan die identiteit van ’n minderjarige wat by ’n misdaad betrokke was, nie bekend gemaak word nie, selfs nadat hulle 18 geword het, tensy ’n formele hofaansoek gedoen word.
Regter Frans Kgomo van die hooggeregshof in Kimberley het die boerseun in 2014 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die moorde, twaalf jaar vir verkragting en vier jaar vir regsverydeling. Hierdie vonnisse word samelopend uitgedien.
Die moordenaar, wat op 15 Augustus reeds 28 jaar oud geword het, dien tans sy vonnis in die Upington-gevangenis uit.