Central SA
Drie swaar gestraf vir gewapende rooftog by Bethlehemse OTM─── HEIDRÈ MALGAS 12:46 Tue, 20 Aug 2024

“Omstreeks 09:00 het veiligheidsbeamptes geld by ’n OTM op Bethlehem afgelewer toe ’n groep swaar gewapende verdagtes hulle aanval en ’n onbekende bedrag kontant en ’n vuurwapen steel.”
Die hooggeregshof in Bloemfontein het drie mans gevonnis vir gewapende roof, poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen ná ’n transitorooftog op Bethlehem.
Dumisani Khumalo (38), Thobane Chaiphus Khuzwayo (48) en Ndlandla Sijele Sithole (51) is Maandag (19/8) gevonnis, sê Christopher Singo, Vrystaatse Valke-woordvoerder. Hulle skuldigbevinding spruit uit ’n voorval op 10 November 2021.
‘ ’n Groep swaar gewapende rowers het hulle aanval’
“Omstreeks 09:00 het veiligheidsbeamptes geld by ’n OTM op Bethlehem afgelewer toe ’n groep swaar gewapende rowers hulle aanval en ’n onbekende bedrag kontant en ’n vuurwapen steel.”
Die polisie is onmiddellik in kennis gestel en het die verdagtes se voertuig agternagesit. Beamptes van Lindley het hulle ingehaal. ’n Skietgeveg het gevolg waartydens een polisiebeampte gewond is.
‘Tweede skietgeveg vind in Petrus Steyn plaas’
“Die verdagtes het na Petrus Steyn gevlug, waar ’n tweede skietgeveg plaasgevind het en een van die verdagtes doodgeskiet is. Die oorblywende verdagtes het in verskillende rigtings laat spat.”
Hy sê beamptes van die polisie op Lindley en Petrus Steyn, asook die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige misdaad op Bethlehem, het die verdagtes agternagesit en dieselfde dag in hegtenis geneem.
Die saak is aan die Valke oorhandig vir verdere ondersoek, wat gelei het tot die skuldigbevinding van die beskuldigdes.
#sapsHAWKS Free State: Hefty sentence for #CIT robbers. Dumisani Khumalo (38), Thobane Chaiphus Khuzwayo (48) and Ndlandla Sijele Sithole (51) appeared before the Free State High Court sitting in Bloemfontein on 19/08 where they were convicted and sentenced for robbery… pic.twitter.com/LBFppFAwYu
— SA Police Service ???? (@SAPoliceService) August 20, 2024
Die hof het die beskuldigdes soos volg gevonnis:
- Khumalo: 25 jaar gevangenisstraf vir roof, poging tot moord, en vuurwapenoortredings.
- Khuzwayo: 20 jaar gevangenisstraf vir roof en poging tot moord.
- Sithole: 28 jaar gevangenisstraf vir roof, poging tot moord, en vuurwapenoortredings.
Alle vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
Genl.maj. Mokgadi Bokaba, provinsiale Valke-hoof, het die pogings van die ondersoekbeampte en die aanklaer geprys om ’n swaar vonnis teen die oortreders te verseker. “Dit sal ’n sterk boodskap aan misdadigers oordra dat die polisie toegewy is daartoe om misdaad te bestry.”