On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Kuberaanval op gesondheidslaboratorium teiken elektroniese toetsuitslae

───   06:08 Fri, 05 Jul 2024

Kuberaanval op gesondheidslaboratorium teiken elektroniese toetsuitslae | News Article
Die stelsel wat laboratoriumverslae outomaties gegenereer het, is gedeaktiveer. Foto: Unsplash/NCI

“Alle dringende resultate word egter telefonies aan versoekende dokters gekommunikeer.”

Die gesondheidsdepartement het Woensdag gesê die omkeertyd vir die verwerking van toetsuitslae by die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste word vertraag weens ’n kuberaanval op 22 Junie vanjaar.

Woordvoerder Mzi Gcukumana sê hulle werk daaraan om die sekuriteitsbreuk by die Nasionale Gesondheidslaboratorium (NHLS) so spoedig moontlik op te los.

“Die laboratorium het ’n kritieke toetslys aan alle gesondheidsgeriewe ontwikkel en versprei. Dit word gedoen om die volume toetsversoeke te beperk sodat ons laboratoriums die werkslading kan hanteer. Roetinetoetse sal wel nog uitgevoer word.

“Ons het met innoverende maniere vorendag gekom om toetsuitslae van historiese TB- en MIV-tellings aan dokters beskikbaar te stel. Meer toetse, met die prioriteit van dié op die kritieke toetslys, sal beskikbaar gestel word. Ons is ook in die proses om met ’n elektroniese registrasiestelsel nuwe monsters te registreer en toetsresultate elektronies te verskaf.”

Die NHLS se uitvoerende hoof, prof. Koleka Mlisana, het gesê aan die diensleweringskant (toetsing) funksioneer alle laboratoriums, hoewel die verskaffing van toetsresultate aan dokters ’n uitdaging bly.

“Onder normale omstandighede word die laboratoriumverslae outomaties gegenereer en aan dokters op WebView beskikbaar gestel, hierdie voorval het daardie funksionaliteit gedeaktiveer. Alle dringende resultate word egter telefonies aan versoekende dokters gekommunikeer,” het Mlisana gesê.

Die woordvoerder van die departement van gesondheid, Foster Mohale, sê die kuberaanval het ’n outomatiese funksie vir die stuur van laboratoriumresultate gedeaktiveer. Mohale sê alles word nou met die hand gedoen. “Waar dit tien minute geneem het vir die dokter om ’n pasiënt te diagnoseer, neem dit tot 20 minute weens die stelsel wat ons nou moet gebruik.”

“Dit is ’n krisis waaraan tans aandag gegee word met die dringendheid wat dit verdien.” Hy sê dit het die omkeertyd beïnvloed.

’n Saak is by die polisie geopen.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.