On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

‘Saak vorder goed’ jaar ná Wilgehof-moorde

───   HEIDRÈ MALGAS 10:58 Sun, 30 Jun 2024

‘Saak vorder goed’ jaar ná Wilgehof-moorde | News Article
Betsie Kruger by haar bejaarde ma, haar dogter Janine en skoonseun Christo Theron. Foto: Facebook

“Die polisie het intussen op ons inligting voortgebou en hulle het gevorder met die insameling van bewysstukke wat in die hof teen die verdagtes gebruik kan word.”

Dit is ’n jaar sedert drie lede van ’n gesin in Wilgehof, Bloemfontein, dood aangetref is by hul Byenes-dagsorgsentrum.

Die liggame van Betsie Kruger (dagsorgmoeder/eienaar), haar dogter Janine en skoonseun Christo Theron is op 29 Junie 2023 in die huis gevind.

Sedertdien het Mike Bolhuis en sy ondersoekspan bystand verleen in die saak.

In September 2023 het Bolhuis se span vyf verdagtes geïdentifiseer wat na bewering betrokke was by die moorde.

“Die laaste keer wat ons ondersoek gedoen het en verdagtes geïdentifiseer het, is al die inligting aan die polisie oorhandig. Die polisie het intussen op ons inligting voortgebou en hulle het gevorder met die insameling van bewysstukke wat in die hof teen die verdagtes gebruik kan word. Dit is gebaseer op die inligting wat ons aan hulle verskaf het,” sê Antoinette Coetser, ondersoeker van Mike Bolhuis se Specialised Security Services.

‘Dit vorder goed; dit is net ‘n baie tydsame proses’

Sy sê dat hul ondersoekspan reeds bevestiging ontvang het oor van die inligting, en dat dit inderdaad dieselfde verdagtes betrek. Hulle wag egter nog op sommige forensiese verslae wat uitstaande is.

“Ons hoop, glo en vertrou dat inhegtenisnemings dan sal volg. Die ondersoek is tans baie sensitief en daar kan nie verdere inligting oor die geïdentifiseerde verdagtes gegee word nie. Dit vorder egter goed; dit is net ‘n baie tydsame proses.”

Janine Theron en haar ma, Bets Kruger, was by die Curriebeker-eindstryd net ’n paar dae voor hul moord. Foto: Facebook

Daar is glo geen verbintenis tussen die families en die geïdentifiseerde verdagtes nie. Coetser sê weens die sensitiewe aard van die ondersoek en om die bronne te beskerm, kan name nie bekend gemaak word nie.

“Tannie Betsie Kruger was ’n geliefde lid van die gemeenskap. Onder haar liefdevolle hand as dagsorgmoeder, is menige kleinding gevorm. Ouers wie se kinders in haar dagsorgsentrum was, is swaar getref deur die nuus,” sê Valerie de Kock, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metroraad.  

Die motief vir die moorde dui op finansiële gewin. Die verdagtes het brutaal opgetree om geld en waardevolle items te kry.

Die nuwe ondersoekbeampte, ao. Wilson, gee volgens Coetser baie goeie samewerking en werk baie hard aan die saak. Die Mike Bolhuis-span is baie tevrede met hom.

OFM Nuus/Heidre Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.