On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse LUR eis optrede ná wrede moorde op vroue

───   HEIDRÈ MALGAS 13:59 Tue, 25 Jun 2024

Vrystaatse LUR eis optrede ná wrede moorde op vroue | News Article
Judith Mpho Moalasi. Foto: Facebook

"Haar dood is deel van die onlangse toename in vrouemoorde in die provinsie."

Die nuwe Vrystaatse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling is bekommerd oor die toename in gewelddadige moorde op vroue in die Vrystaat en sê iets moet dringend gedoen word.

Mathabo Leeto sal die hofsaak bywoon van die verdagte wat daarvan beskuldig word dat hy Judith Mpho Moalosi, ’n onderwyseres van die Tsoseletso Secondary School, vermoor het. Die verhoor begin Woensdag (26/6) in die landdroshof in Bloemfontein.

Thembile Nqabeni, departementele woordvoerder, sê die LUR moedig inwoners aan om geslags- en vrouegeweld te beveg omdat dié misdade ’n nadelige uitwerking op gemeenskappe het,

‘Departement is baie hartseer oor Moalosi se moord’

“Hoewel ons Vrystaters nie paniekbevange wil maak nie, erken die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling die sombere werklikheid van vrouemoorde en die volgehoue probleem van geslagsgeweld en vrouemoord in ons gemeenskappe, ten spyte daarvan dat pres. Cyril Ramaphosa dit as ’n pandemie beskryf het,” sê hy.

Nqabeni sê die departement is baie hartseer oor Moalosi se moord. Haar liggaam is Maandagoggend 17 Junie deur die Bloemspruit-polisie op die Dewetsdorppad gevind. Haar dood is deel van die onlangse toename in vrouemoorde in die provinsie.

Leeto het haar medelye betuig met Moalosi se familie. Sy doen ook ’n beroep op inwoners om die polisie te help met enige inligting wat die ondersoek kan help. Die departement veroordeel hierdie gruwelike misdaad en geweld teen vroue.

 Amptenare van die departement en maatskaplike werkers is na die slagoffer se huis gestuur om sielkundige en maatskaplike ondersteuning te bied.

OFM Nuus het vroeër berig Moalasi se liggaam is met verskeie beserings gevind. Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê haar jonger broer het omstreeks 00:30 ’n oproep van sy suster gekry. Hy het probeer om haar terug te bel, maar dit het dadelik na stempos oorgegaan.

“Hy het vermoed iets is fout en het haar by haar woonplek in Rocklands gaan soek.” Hy het gesien haar motor is ook nie daar nie en het haar by die Kagisanong-polisiekantoor as vermis aangemeld.

‘Hulle het besef dit is dieselfde vrou wat vermis word’

Op 17 Junie omstreeks 06:45 het die Bloemspruit-polisiekantoor inligting ontvang van ’n vrou se liggaam wat vermoedelik langs die Dewetsdorppad gegooi is. Hulle het besef dit is dieselfde vrou wat vermis word.

Die polisie het inligting opgevolg wat hulle na ’n huis in Fase 2 gelei het, waar die oorledene se kêrel woon. Die polisie het ook die oorledene se motor hier gekry. Lede van Parkweg se taktiesereaksie-eenheid is na die toneel ontbied en hulle het haar kêrel onder sy bed gekry. Die verdagte (42) is in hegtenis geneem.

 OFM Nuus/Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.