On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Polisiekaptein vas oor bedreigde veldplante

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:50 Thu, 09 May 2024

Polisiekaptein vas oor bedreigde veldplante | News Article
Kapt. Karel du Toit. Foto: Ground Up

“Du Toit, wat teregstaan op klagte van onder meer korrupsie, bedrog en die oortreding van die toerisme-wet, is deur lede van die teenkorrupsie-eenheid, in samewerking met die Valke, in hegtenis geneem.”

’n Polisiekaptein op Springbok is borgtog toegestaan nadat hy in hegtenis geneem is op aanklagte wat verband hou met bedreigde veldplante.

Die hoof van die eenheid vir veediefstal en bedreigde plantspesies op Namakwaland se hoofdorp, kapt. Karel du Toit, het Donderdag (9/5) vlugtig in die streekhof op Springbok verskyn en is vrygelaat op borgtog van R50 000, met streng voorwaardes. Hy sal na verwagting weer op 1 Augustus in die hof verskyn.

Du Toit, wat teregstaan op aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog en die oortreding van die Toerismewet, is deur lede van die teenkorrupsie-eenheid, in samewerking met die Valke, in hegtenis geneem. Bedreigde veldplante van miljoene rande word al jare lank uit Namakwaland na Oosterse lande, soos Taiwan en China, gesmokkel. Dit sluit spesies soos Conophytum in.

‘Hy was veronderstel om die uiters seldsame veldplante te beskerm’

Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die organisasie Rural and Farmers Development, sê hoewel hy Du Toit se inhegtenisneming verwelkom, is dit skokkend dat hy so gou op borgtog vrygelaat is.

“Du Toit is iemand wat behoort te weet wat is reg en wat is verkeerd. Hy was veronderstel om die uiters seldsame veldplante te beskerm. Hy het al self mense in hegtenis geneem vir die misdaad en nou is hy aan die ontvangkant.”

Twee stropers, Benedict Beukes (28) en Quinton Steenkamp (30), van die Noord-Kaap is in 2023 in die streekhof in Springbok tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan die oortreding van die Noord-Kaapse Natuurbewaringswet.

‘Du Toit het twee dae later ’n aansoek gebring om ’n lokval uit te voer’

Du Toit se eenheid het op 1 Desember 2020 ’n boodskap van ’n persoon ontvang wat homself as Quinton geïdentifiseer het en beskermde plante wou verkoop.

Du Toit het twee dae later ’n aansoek gebring om ’n lokval uit te voer, wat die hof toegestaan het.

’n Ooreenkoms vir die transaksie is bereik en reëling is getref. Op 20 Desember 2020 is ’n operasionele span saamgestel en die agent is geaktiveer om die transaksie uit te voer.

‘Stropery van die plante is hoofsaaklik vir die oorsese mark’

Die beskuldigdes is deur die agent op Spoegrivier opgelaai. Hulle het die plante in hul besit gehad en dit is in die bakkie geplaas. Nadat die agent die bakkie op die N7 na Springbok langs die pad gestop het om die geld te gaan haal, is Steenkamp en Beukes gearresteer. Hulle het op 22 Februarie 2022 skuld beken.

Tydens die hofsaak het Du Toit statistiek verskaf oor die kommerwekkende toename in hierdie misdaad, en ook getuig dat die stropery van die plante hoofsaaklik vir die oorsese mark is, waar die besit van hierdie plante as ’n simbool van sukses beskou word.

Du Toit het getuig dat die vernaamste skuldiges gewoonlik mense van China en ander Oosterse lande is.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.