On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley: Blitspatrollielede se vermeende moordenaar terug in hof

───   HEIDRÈ MALGAS 11:28 Mon, 06 May 2024

Kimberley: Blitspatrollielede se vermeende moordenaar terug in hof | News Article
Die vermeende moordenaar en kaper Daniel Wilfred Alberts (38), met sy eerste hofverskyning. Foto verskaf

“Hy was agt maande lank op die waglys ná sy inhegtenisneming voor hy opgeneem kon word.”

Die man wat aangekla word van die moord verlede jaar op twee blitspatrollielede in Kimberley se saak is uitgestel tot 5 Junie vir ’n formele aanklag in die hooggeregshof.

Daniel Wilfred Alberts (38) se sielkundige evaluering is afgehandel en hy is gereed om in die hof te verskyn. “Hy was agt maande lank op die waglys ná sy inhegtenisneming voor hy opgeneem kon word,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder in die Noord-Kaap.

Die Kimberley-distrikshof het vroeër verneem hy is ’n psigiatriese pasiënt wat voorheen al in verskeie psigiatriese fasiliteite opgeneem is. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede, motordiefstal, asook vir die diefstal van ’n skootrekenaar.

Daniel Alberts het later met die motor in ’n sloot beland. Foto verskaf

Konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo (45) van die blitspatrollie in Kimberley was op 22 Augustus besig om inligting oor ’n gesteelde voertuig op te volg. Die voertuig was van Bloemfontein onderweg en is later in Kimberley gewaar.

Alberts het tot by 'n Transnet-perseel gejaag waar hy in ’n ongeluk betrokke was en toe weggehardloop het. Die twee polisielede het hom agternagesit en hy het na bewering op hulle losgebrand. Alberts is dieselfde dag in hegtenis geneem. 

Masilo was 16 jaar in die polisie en Mandindi elf jaar. 

Daniel Alberts het ná die skietery na die Diamond Pavillion-winkelsentrum gevlug. Foto verskaf

OFM Nuus het vroeër berig Ofentse Mokae, woordvoerder van die DA in die Noord-Kaap, het gesê die DA veroordeel die dubbele polisiemoord in Kimberley.

“Ons eer konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo. Hulle het gesterf toe hulle probeer het om ’n veiliger wêreld te skep met minder misdadigers op ons strate,” het Mokae gesê. “Ons is veral bekommerd oor berigte dat die oortreder ’n herhaalde misdadiger is.”

OFM Nuus/Heidre Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.