On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Polisie begin soektog na Noordwes-raadslid se moordenaars

───   KEKELETSO MOSEBETSI 06:57 Sun, 28 Apr 2024

Polisie begin soektog na Noordwes-raadslid se moordenaars | News Article

“Die slagoffer se niggie het by die erf ingehardloop en om hulp geskree. Die raadslid se broer was net betyds om te sien hoe die verdagtes weghardloop en uiteindelik in ’n BMW vlug.”

’n Soektog is begin na die moordenaars van ’n 54-jarige munisipale raadslid van Rustenburg. Sy is Vrydagaand (26/4) in Photsaneng buite Rustenburg doodgeskiet nadat sy en haar niggie winkel toe gestap het. Die polisie in Rustenburg het bevestig die raadslid is twee keer geskiet by die hek van hul huis.

Die slagoffer en haar niggie het van die winkel af huis toe gestap en hul hek genader toe een van vier onbekende mans, wat hulle agtervolg het, nader gekom en na bewering twee skote afgevuur het. “Volgens inligting het die slagoffer se niggie by die erf ingehardloop en om hulp geskree. Die raadslid se broer was net betyds om te sien hoe die verdagtes weghardloop en uiteindelik in ’n BMW vlug,” het Noordwes-polisiewoordvoerder, Brigadier Sabata Mokgwabone, gesê.

“Die slagoffer is na bewering onder die linkeroor en voorkop geskiet,” het Mokgwabone bygevoeg. Sy is deur Nood- en Mediese Dienste (EMS) dood verklaar. Die motief van die moord moet nog vasgestel word en ondersoeke is aan die gang. Niemand is al in hegtenis geneem nie.

Politieke moorde voor verkiesings

Volgens The Citizen is die Rustenburg-raadslid se moord die jongste van verskeie polities-gemotiveerde moorde in Suid-Afrika vanjaar.

Nog 'n raadslid is in 2022 by Phokeng naby Rustenburg deur onbekende verdagtes doodgeskiet. Papiki Babuile, sekretaris-generaal van die EFF (SG), het destyds sy skok uitgespreek oor die moord op een van hul raadslede.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga) in KwaZulu-Natal (KZN) het in Februarie gesê hy is bekommerd oor politieke moorde voor die nasionale en provinsiale verkiesings op 29 Mei.

Voorsitter van KZN Salga, Thami Ntuli, het gesê uitsprake wat deur politieke leiers gemaak word, is soos olie op vuur.

“Wat ook nie help nie, is sommige van ons politieke leiers wat opruiende taal tydens hul veldtogte gebruik in plaas daarvan om by politieke diplomasie te bly wanneer hulle kiesers toespreek, dus is die voorvalle van die afgelope paar weke kommerwekkend en iets moet deur die polisie gedoen word. Diegene wat aan bewind is moet hierdie situasie bestuur,” het hy gesê.

Ntuli het ook die doeltreffendheid van die polisie bevraagteken nadat niemand in Januarie vir enige van die vier moorde in KZN in hegtenis geneem is nie.

"Die brutaliteit waarmee die misdadigers hulle doodmaak, wys dat hulle weet daar sal geen gevolge vir hul optrede wees nie," het hy gesê.


OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.