On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende brandstofdief van Potchefstroom binnekort in hof

───   ZENANDE MPAME 14:40 Fri, 26 Apr 2024

Vermeende brandstofdief van Potchefstroom binnekort in hof | News Article

“Die polisie het beslag gelê op beide die voertuig en die petrolkaart.”

’n Man (43) sou na verwagting Vrydag (26/4) sy eerste hofverskyning in die Potchefstroomse landdroshof maak op aanklagte van bedrog en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Die man is Dinsdag in Ikageng in hegtenis geneem, nadat die Potchefstroomse blitspatrollie en die honde-eenheid inligting ontvang het oor brandstofkaartbedrog met onaktiewe voertuie van die JB Marks-munisipaliteit.

“Een van die petrokaarte is by ’n vulstasie in Potchefstroom gebruik. Die munisipaliteit het ’n verlies van R2,8 miljoen gely weens dié bedrog,” sê Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.

“Ten tyde van die inhegtenisneming is die verdagte in besit gevind van ’n vermoedelik gesteelde petrokaart waarop die polisie beslag gelê het.”

Die verdagte was ’n munisipale werknemer, het Jeannette Tshite, JB Marks-woordvoerder, aan OFM Nuus bevestig. “’n Munisipale werknemer is aangekeer weens bedrieglike transaksies wat met die munisipale voertuig se petrokaart uitgevoer is.”

Die kaart is Dinsdag 2 Januarie deur die toesighouer van die afdeling vir afvalbestuur vermis aangemeld en is ook by die vlootbestuurder aangemeld, wat dit later by die Absa-vlooteenheid aangemeld het, sê Tshite.

“Die Absa-vlooteenheid is versoek om die kaart te deaktiveer en ’n nuwe een uit te reik, die vlootbestuurder is versoek om die vermoedelike bedrieglike transaksies op die vlootkaart te bevestig. Die transaksies is as bedrieglik bevestig en ’n strafsaak is op Vrydag 8 Maart geopen.”

Vaalweekblad berig die verdagte is ten tyde van sy inhegtenisneming in besit gevind van ’n vermoedelik gekloonde Nissan NP 200-voertuig en die vermoedelik gesteelde brandstofkaart. Die polisie het op die voertuig en die brandstofkaart beslag gelê.

Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die polisie geloof vir die inhegtenisneming en gesê dat die polisie sal voortgaan om hard te werk sodat geregtigheid kan geskied.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.