On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

ANC in Matlosana hou uitspattige partytjie midde-in rioolkrisis

───   HEIDRÈ MALGAS 12:04 Thu, 25 Apr 2024

ANC in Matlosana hou uitspattige partytjie midde-in rioolkrisis | News Article
Matlosana Munisipaliteit. Foto: Facebook

“Ons sal aanhou druk toepas op die munisipaliteit om die rioolstorting vinnig stop te sit deur die lekkende pype te herstel en besoedelde gebiede en die dam te rehabiliteer.”

Die ANC-administrasie in die stad Matlosana het ’n spoggerige partytjie gehou om die skenking van ’n mynhoop aan Stilfontein deur Harmony Gold Mine te vier, terwyl die inwoners van die dorp daagliks moet saamleef met die stank van rou riool wat in die strate vloei en die Republiekdamp besoedel.

Die DA in die raad in Klerksdorp is bekommerd oor die ANC-administrasie se minagting van die behoeftes van inwoners, sê Portia Burrel, DA-raadslid. “Ouers word gedwing om hul kinders te verhoed om buite te speel uit vrees vir die risiko om blootgestel te word aan siekte (as hulle in aanraking met die onverwerkte riool kom).”

Sy het bygevoeg Matlosana se versuim om die jare lange probleem op te los, het gelei tot verwoestende gevolge, met ’n beduidende verlies aan waterlewe in die dam. Sommige inwoners ervaar ook asemhalingsprobleme.


“Dié klagtes,” kap die munisipale woordvoerder Ntswaki Makgetha terug, “is ’n desperate poging deur die DA om hom van die diensleweringuitdagings te verskoon en nie hierdie uitdagings te wil erken nie, ten spyte daarvan dat hulle deur dieselfde inwoners verkies is. Die DA vorm ’n integrale deel van hierdie administrasie en sy raadslede neem deel aan alle besluitnemingsprosesse.”

“Die munisipaliteit van die Stad Matlosana het geen moeite ontsien om die diensleweringuitdagings waarmee sy inwoners te kampe het, die hoof te bied nie, bo en behalwe die finansiële uitdagings waarmee ons te kampe het. Daarom het die munisipaliteit ’n program, Thuntsa Lerole, begin om presies diensleweringuitdagings deur samewerking met ander regeringsdepartemente die hoof te bied,” sê Makgetha.

Harmony Gold Mine, in collaboration with the City of Matlosana municipality, officially handed over the scott rock dump to the community of Khuma. Foto: Facebook

Sy sê die ANC-administrasie doen gereeld verslag aan die mense deur die imbizo’s, terugvoeringsvergaderings met die gemeenskap en maandelikse wyksvergaderings.

Burrel sê intussen die DA sal die Menseregtekommissie versoek om die nalatigheid van die munisipaliteit in die hantering van hierdie krisis te ondersoek en die versuim om te verseker dat inwoners in ’n omgewing leef wat skoon en gesond is.

“Ons sal aanhou druk toepas op die munisipaliteit om die rioolstorting vinnig stop te sit deur die lekkende pype te herstel en besoedelde gebiede en die dam te rehabiliteer,” sê sy.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.