On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Vredefort se Kruistog dra weer ware Paasboodskap uit

───   ELSABÉ DE JAGER 08:25 Fri, 08 Mar 2024

Vredefort se Kruistog dra weer ware Paasboodskap uit | News Article
Ongeveer 3 000 deelnemers aan vanjaar se Kruistog word verwag. Foto: Facebook

“Ek wou iets doen wat aan die mense die ware werklikheid van Paastyd uitbeeld.”

Die kruistog is nie ’n geleentheid om geld te maak of enige produk te bemark nie. Dis ’n dag waarop mense hul ontmoeting met die kruis, êrens vroeër op die lewenspad, herdenk.

Inwoners van Vredefort in die Noord-Vrystaat werk hard om die dorp skoon en netjies te maak vir die besonderse, jaarlikse geleentheid, sê Juan Greeff, organiseerder van die Vredefort-kruistog, wat vanjaar vir die derde keer aangebied word.

“Soos met die vorige kruistogte vat die gemeenskap en die munisipaliteit hande. Mense bied spontaan hulp aan vir hierdie groot projek, want minstens 3 000 deelnemers aan die kruistog-sirkelroete, wat oor 3 km strek, word op 29 Maart verwag.”

Dié geleentheid lok belangstellendes van oor die hele land en selfs van oorsee. Foto verskaf

“Almal vergader vroegoggend op die dorp se sportterrein vir die voorprogram van lofprysing en aanbidding saam met plaaslike kunstenaars,” sê Greeff. Daarna word ’n kruisformasie gevorm en Nagmaalbediening vind plaas.

Om 12:00 begin die uur lange kruistog. “Daar is ook voertuie beskikbaar vir deelnemers wat nie kans sien om die roete te stap nie,” stel Greeff belangstellendes gerus.

Die Vredefort-kruistog het ontstaan ná ’n gesprek tussen Greeff en sy vrou, Jani, een aand vroeg in 2022. “Ek het gewonder wat ons kon doen om van Paasnaweek iets te maak wat meer as bloot ’n vakansienaweek is. Ek wou iets doen wat aan mense die ware werklikheid van Paastyd uitbeeld.”

Die kruistog-staproete strek oor 3 km. Foto: Facebook

Greeff het weggespring met die idee van ’n vlot. “Ek onthou nog die papiertjie waarop ek ’n wa met vier wiele geteken het. Bo-op was ’n kruis.”

Die volgende stap was ’n vergadering met die gemeenskapsleiers. Die geesdrif was aansteeklik en idees het van oral ingestroom.

Dié klein Vrystaatse gemeenskap verwag vanjaar weer, soos die afgelope twee jaar, besoekers van oor die hele land en selfs gaste van oorsee. “Heelwat Kapenaars, ook Durbaniete, het reeds blyplek in gastehuise op die dorp bespreek,” sê Greeff.

Die hele gemeenskap van Vredefort sit hand by met die voorbereidings. Foto: Facebook

“Ja, daar is ’n hele paar nuwe dinge wat gebeur,” antwoord Greeff op die vraag oor veranderinge op vanjaar se program. “Ons het verlede jaar besef die konvooi stappers raak ontsettend lank.

“Ons sorg vanjaar vir addisionele stasies langs die pad waar musiek gespeel sal word vir die stappers om te geniet. So sal die hele dorp ook gevul word met die pragtige gewyde liedere.”

Hierdie gemeenskapsprojek, wat harte tot veel verder as slegs die Vrystaat aanraak, sal wéér vanjaar met sy massa-optog van kruisdraers die ware Paasboodskap tot die verste uithoeke van die land uitdra.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.