On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Matjhabeng wil straatname verander voor president se besoek aan Welkom

───   15:23 Tue, 05 Dec 2023

Matjhabeng wil straatname verander voor president se besoek aan Welkom | News Article
Picture: Circle City Info

“Die ANC gebruik naamsverandering om emosionele guns by kiesers te wen, maar hulle pogings gaan platval.”

Terwyl Matjhabeng-munisipaliteit steeds sukkel om selfs basiese dienste soos water en sanitasie aan inwoners te verseker, het die burgemeester verlede week op ’n raadsvergadering aangekondig ’n komitee gaan gestig word om straatname te verander.

Lede van die VF Plus het hul stem dik gemaak op die raadsvergadering. “Volgens (burgemeester David) Kalipha is die naamsveranderinge nodig om (aandag te gee aan) die ongelykhede van die verlede,” sê Susan Taljaard, VF Plus-raadslid.

“Hy ontken gerieflikheidshalwe dat sy party se mislukkings die afgelope 30 jaar tot ’n algehele gebrek aan dienslewering gelei het. Dis ’n blatante verkiesingstrategie,”

Die beplande straatnaamveranderings is ’n opportunistiese strategie wat moontlik sal misluk, meen dr. Igor Scheurkogel, DA-koukusleier. “Die ANC gebruik naamsverandering om emosionele guns by kiesers te wen, maar hul pogings gaan platval as hulle voortgaan om die krisis te ignoreer. Inwoners het genoeg gehad. Ons sien dit reeds en hulle gaan dit by die stembus wys,” voorspel hy.

’n Komitee gaan gestig word om straatname te verander. Foto: Pilot's Post

Scheurkogel wys daarop dat diensleweringsprobleme agteruitgegaan het van ongerieflik tot lewensgevaarlik. “’n Bewys hiervan is die stand van sake op Odendaalsrus. Verlede week het die dorp drie dae lank kragonderbrekings ervaar weens ’n kabel wat weens verkrummelende infrastruktuur en swak instandhouding verbrand het.

“Daar is steeds ’n oop sloot in De Kockstraat wat reeds ’n motorongeluk veroorsaak het en ook gevaar vir padgebruikers en leerlinge van die nabygeleë Laerskool Odensia inhou,” sê hy.

Die DA beplan om die munisipale bestuurder formeel te nader en daarop aan te dring dat die nodige stappe gedoen word om die gemeenskap se veiligheid te verseker terwyl die elektrisiteit op die perseel herstel word.

Die beplande straatnaamveranderings is ’n opportunistiese strategie. Foto verskaf

Taljaard sê die VF Plus bly verbind tot volgehoue weerstand teen die wanbestuur en korrupsie van die ANC, asook deelname aan die skepping van ’n verantwoordbare koalisieregering.

Scheurkogel meen die verkiesing kan gebruik word  om verandering teweeg te bring. “Die ANC, veral lede wat verblind word deur Khalipha se politieke pronkery en blatante leuens van verbeterde dienslewering, kan en sal net by die stembus genees word.”

OFM Nuus   dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.