On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Meyerton: Minibustaxi met Ferrari-plakker maak draai by matriekafskeid – VIDEO’S

───   KAREN VAN DER BERG 09:00 Wed, 15 Nov 2023

Meyerton: Minibustaxi met Ferrari-plakker maak draai by matriekafskeid – VIDEO’S | News Article
Kimberly Styles en haar kêrel en metgesel, Jannes Fouché, het die koppe laat draai toe hulle met ’n minibus-taxi by die matriekafskeid opgedaag het. Foto: Luzanne van Lu-Productions Photography

“Ek het baie planne vir die vervoer gehad maar die perfekte idee of voertuig het nooit by ons opgekom nie.”

Kimberly Styles (18) van die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton het jare gedroom oor hoe haar matriekafskeid eendag moet wees. Maar toe sy en haar kêrel, Jannes Fouché (20), op 13 Oktober by dié geselligheid opdaag, het dit nie heeltemal soos haar kinderdrome gelyk nie.


Kimberly en Jannes het met ’n trots Suid-Afrikaanse minibustaxi by die Kliprivier Country Estate net buite Meyerton opgedaag. Kwaito, Engels en Afrikaanse musiek kon oor die luidsprekers gehoor word. 

“Ek het baie planne vir die vervoer gehad maar die perfekte idee of voertuig het nooit by ons opgekom nie.”

Kimberly Styles en haar kêrel, Jannes Fouché. Foto: Luzanne van Lu-Productions Photography

“Een oggend het ek weer met my ma daaroor gepraat en sy het grappenderwys gesê ons moet in ’n taxi gaan.” Die idee het in Kimberly se kop vasgesteek omdat dit baie druk van haar en almal sou afhaal en ook nie so duur sou wees as ’n spoggerige motor nie. 

Kimberly vertel Hendrik Taljaard, haar ma se lewensmaat, het na die taxistaanplek in Meyerton gegaan en na die perfekte taxi gaan soek.

“Dit is toe wat hy op Oupa Mafiga afgekom. Sy taxi was nie meer splinternuut nie maar hy was baie skoon en hy het ’n Ferrari-plakker agterop gehad.” Sy skerts dat sy en Oupa Mafiga duidelik dieselfde drome droom.

Kimberly sê haar volgende probleem was dat sy en Jannes ’n hele taxi vir hulself gehad het. Meeste van haar skoolmaats het reeds hul eie vervoer gehad. Sy het toe haar ma, Amanda Styles, Hendrik, en ’n paar van haar ma se vriendinne wat ’n groot rol in haar grootwordjare gespeel het, gevra om saam te gaan. Hulle was toe elf mense in die taxi. 

Kimberly Styles sê die hele ervaring was vir hulle fantasties. Foto: Luzanne van Lu-Productions Photography

“Die taxi het natuurlik al die koppe laat draai. Ek hoop regtig dat ons ’n boodskap by mense kon tuisbring dat die lewe soms vol slaggate en bulte is maar dit gaan meer oor die eindbestemming.” Sy sê dit wat werklik saak maak is wie die lewe saam met jou aanpak, wie jou liefhet en wie saam met jou lag.


Die aand was uit die boeke en iets wat sy vir ewig sal onthou. Alles was prentjiemooi gewees. Die kersie op die koek is dat Kimberly op 27 Oktober as Mej. Matriek in die distrik aangekondig is.

Kimberly Styles en Jannes Fouché het die matriekafskeid baie geniet. Foto: Luzanne van Lu-Productions Photography

Sy is gekies om saam met die Chantenique Afronding- en Modelskool in 2024 na New York te gaan om aan skoonheid-en talentkompetisies deel te neem.

OFM Nuus/Karen van der Berg Daphné


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.