Central SA
Vyf aangekeer vir roof en aanranding van Noordwes-polisiebeamptes─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:43 Sun, 12 Nov 2023

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem vir die aanranding en roof van polisiebeamptes in Vryheidspark, naby Phokeng buite Rustenburg.
Noordwes polisie het Donderdag (9/11) ’n 51-jarige verdagte wat gesoek is vir aanranding, versoek om hulle na die polisiestasie te vergesel vir ondervraging.
Volgens Noordwes-polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabone het die verdagte ’n fluitjie geblaas, waarna lede van die gemeenskap by sy huis opgedaag het en die hek gesluit het. Die groep het die polisiebeamptes met toue vasgebind en hulle met knopkieries aangerand. Hulle het ook selfone gesteel en die polisievoertuig beskadig.
Die beamptes is gered deur lede van die taktiese reaksie-eenheid. Mokgwabone sê die verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 24 en 51, is in hegtenis geneem op aanklagte van roof, aanranding van polisiebeamptes en moedswillige beskadiging van eiendom.
Die verdagtes verskyn Maandag (13/11) in die Bafokeng-landdroshof.
OFM Nuus/Christine van Deemter/Dane Beisheim