Central SA
John Block getuig in lastersaak─── 08:16 Thu, 09 Nov 2023
“Block het voor sy vonnisoplegging in ’n beëdigde verklaring beweer dat Kgomo vir Phatsoane in ’n telefoniese gesprek sou aansê om Block skuldig te bevind.”
Die veroordeelde John Block, eertydse Noord-Kaapse ANC-leier en LUR, is Woensdag van die Upington-gevangenis na die hooggeregshof in Kimberley gebring weens ’n saak waarin hy vir laster gedagvaar word.
Oudregterpresident Frans Kgomo dagvaar Block en twee prokureurs vir laster en eis skadevergoeding van gesamentlik R7,5 miljoen. Dit spruit uit Block se korrupsiesaak voor regter Violet Phatsoane in 2015 en 2016.
Block het voor sy vonnisoplegging in ’n beëdigde verklaring beweer Kgomo oefen onbehoorlike invloed op Phatsoane uit en het haar in ’n telefoongesprek aangesê om Block skuldig te bevind. Block se versoek aan Phatsoane om die verhoor uit te stel hangende ’n ondersoek na die bewering, is verwerp. Die beëdigde verklaring is toe by die hofsitting ingedien as deel van ’n spesiale inskrywing.
John Block in die getuiebank in die hooggeregshof in Kimberley. Foto: Charné Kemp
Block het getuig sy destydse prokureur, wyle Abel (Dali) Mjila, het hom vertel dat Nano Madlala, ’n prokureur, van die beweerde voorval by ’n ongeïdentifiseerde regter verneem het. Die ongeïdentifiseerde regter was glo in Kgomo se teenwoordigheid toe die telefoongesprek met Phatsoane plaasgevind het.
‘Die RDK het die klagte verwerp’
Block ontken dat hy enige lasterlike bewerings in die beëdigde verklaring gemaak het. Hy het gereageer op inligting en het ’n klagte by die Regterlike Dienskommissie (RDK) teen regter Phatsoane ingedien. Die RDK het die klagte verwerp.
Wyle Mjila het in sy pleitstuk gesê hy het die inligting van Madlala verkry en dit in die teenwoordigheid van ’n senior advokaat met Block bespreek.
Madlala het in sy getuienis sterk ontken dat hy van so ’n voorval te hore gekom het, of dat hy dit aan Mjila oorgedra het.
OFM Nuus/Charné Kemp Corné/Morné