Central SA
Beweerde seksuele wangedrag by Bloemfonteinse skool ondersoek─── KAREN VAN DER BERG 12:51 Mon, 23 Oct 2023
“Die skool se beheerliggaam en bestuurspan is verbind tot ’n veilige leeromgewing waarbinne die leerlinge kan floreer.”
Ouers en leerlinge van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein is geskok oor beweringe van seksuele wangedrag deur ’n onderwyser.
Hy het na bewering betaal vir seksueel eksplisiete foto’s van twee leerlinge van die skool. Hulle is in gr. 8, en die een het haar ouers daarvan vertel.
Die skool se beheerliggaam en bestuurspan is verbind tot ’n veilige leeromgewing waarbinne die leerlinge kan floreer, sê Charles Liversage, skoolhoof. Dit is ononderhandelbaar en geen werknemer is bo dit verhewe nie. Daar moet te alle tye ’n gesonde afstand tussen volwassenes of werknemers en leerders gehandhaaf word.”
Liversage sê die oomblik toe die beweerde wangedrag by hom aangemeld is, het die skool die onderwyser voorlopig geskors, maar hy het kort daarna self bedank.
“Dit is ononderhandelbaar om vir die leerlinge ’n veilige omgewing te bied waar hul hulself kan uitleef en groei.”
Liversage het dadelik alle belanghebbendes, die beheerliggaam en die Vrystaatse Departement van Onderwys daaroor ingelig.
Charles Liversage, hoof van die Hoërskool Sentraal, sê die skool skep ’n veilige omgewing vir die leerlinge. Foto: Facebook
Hy het dit ook Vrydag tydens saalopening met die leerlinge bespreek en in Vrydag se nuusbrief gemeld.
Een van die leerlinge se ouers het ’n saak by die polisie aanhangig gemaak. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het aan OFM bevestig die saak is by die Bayswater-polisiekantoor ingedien. Die polisie ondersoek aanklagte van seksuele gereedmaking, die besit van kinderpornografie en aanhitsing om ’n misdaad te pleeg. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Op Sentraal se Facebookblad ondersteun baie mense die skool en bestuurspan.
Amanda Fourie skryf: “Slegte dinge gebeur met goeie mense. Net so kan slegte dinge gebeur by goeie skole. Mens het nie altyd beheer oor wat gebeur nie, maar wat belangrik is, is hoe mens dit hanteer. Hoërskool Sentraal ons is trots op die manier waarop julle die aangeleentheid hanteer.”
Corlia Hechter: “Niks minder van mnr. Liversage as vinnige optrede verwag nie, welgedaan! My dogters was beide in Hoërskool Sentraal. Sy skool en die kinders is sy prioriteit, enige onderwyser wat ’n kind te na kom in sy skool sal vir seker oor die kole gehaal word.”