Central SA
Jo Black bemoedig kankerlyer van Bloemfontein─── KAREN VAN DER BERG 08:46 Wed, 11 Oct 2023

“Hy het Caylen vreeslik bemoedig. En ook van sy eie lewensverhale en pyn vertel.”
Dié outjie is besig om die geveg van sy lewe te veg. So het die Afrikaanse sanger Jo Black Saterdagaand in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein gesê voordat hy ’n liedjie aan Caylen Venter (12) opgedra het.
OFM Nuus het vroeër berig oor Caylen se styd met ’n baie aggressiewe soort fase 4-beenkanker, wat in Augustus vanjaar by hom gediagnoseer is. Hy is ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Jim Fouché in Bloemfontein.
Caylen is op die oomblik besig met een van sy ses chemoterapie-siklusse, wat elk in vyf weke opgedeel is. Hy is Maandag weer in die Universitas-hospitaal opgeneem vir die behandeling.
Die liedjie wat Jo Black vir hom gesing het, is Een Klein Klippie. Eldie Venter, Caylen se ma, sê Jo het voor die aanvang van die konsert vir Caylen ontmoet.
“Hulle het seker vir ’n uur lank gesit en gesels. Hulle het saam biltong geëet en Jo het ook vir hom sy boek gegee. Hy het hom daarna genooi om sy vertoning te kom kyk.”
Jo Black het spesiaal die naweek vir Caylen Venter (12) van Bloemfontein moed ingepraat. Foto verskaf
Eldie sê Jo is ’n baie diep persoon met ’n baie mooi hart. “Hy het vir Caylen vreeslik bemoedig. En ook van sy eie lewensverhale en pyn vertel.”
Sy sê Caylen het dit verskriklik geniet en het baie goed gevoel. “Daar is regtig soveel omgee-mense daar buite met ’n hart van goud. Ons is dankbaar om hulle almal in ons lewe te hê.”