On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Jaco Jacobs bring ’n Woordveertjie Bloemfontein toe

───   ELSABÉ DE JAGER 12:51 Tue, 19 Sep 2023

Jaco Jacobs bring ’n Woordveertjie Bloemfontein toe | News Article
Meer as 260 kinderboeke het reeds uit sy pen verskyn Foto: Facebook

Hy noem dat “Tekkies” vir hom ’n waagstuk was omdat dit ’n ander storie is.

’n Bekroonde Bloemfonteinse kinderboekskrywer het met nóg ’n toekenning bevestig hy kan inderdaad ’n pad deur ’n kinderhart oopskryf.

Jaco Jacobs het gister die ATKV Woordveertjie vir die selfleeskategorie gr. 6–7 vir Tekkies ontvang. Hy sê hierdie toekenning beteken vir hom nóg meer omdat dit die enigste prys in Afrikaans is waar die jong lesers self die beoordeling waarneem. Dit is vir hom waardevol om só erkenning van sy lesers te ontvang.

Jaco en Elize saam met hul dogters, Mia en Emma. Foto verskaf

Hy vertel Tekkies was vir hom ’n waagstuk omdat dit ’n tienerstorie veel anders as sy voriges is. Dit word in grafieseroman-vorm vertel. Hoewel dit ’n gewone storie is, word dit vertel met strokiesprente. Hy het ook groot waardering vir die illustreerder Alistair Ackermann.

Jacobs noem homself, sedert sy jare aan die Universiteit van die Vrystaat, ’n Bloemfonteiner. Hy is op die Karoodorp Carnarvon gebore en het daar op sewejarige ouderdom sy eerste storie geskryf en geïllustreer. Hy lag toe hy vertel dit was só eenvoudig, niemand wou eers die storie lees nie. 

Die skryfsaadjie is egter daar geplant. Sedertdien het hy al meer as 260 boeke vir kleuters, kinders en jong volwassenes geskryf. Sy eerste boek, Troetelgedrog, het in 2001 verskyn. 

Dié kinderboekkoning is ook ’n kranige atleet. Foto: Facebook

Vir hierdie skrywer, wat woon saam met sy vrou, Elize, en hul twee dogters Mia en Emma, asook drie honde, ’n kat en ’n troetelslang, lê die grootste bevrediging van sy kreatiwiteit in die genot wat die lesers uit sy stories put.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.