On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

‘Donna die eenhoring’ help Liza teen chroniese siekte veg - FOTO'S

───   HEIDRÈ MALGAS 10:57 Mon, 15 May 2023

‘Donna die eenhoring’ help Liza teen chroniese siekte veg - FOTO'S | News Article

’n Pragtige vyfjarige dogtertjie van Bethlehem, Liza Engelbrecht, is as eenjarige met chroniese granulomatose gediagnoseer nadat hulle ‘n granuloom (’n tipe gewas) op haar long gekry het toe sy net 9 maande oud was.

Werner Engelbrecht, Liza se pa, vertel toe hulle die granuloom op haar long gekry het, is dit suksesvol met steroïede behandel. Ná baie toetse is sy egter op ‘n jaar oud met chroniese granulomatose gediagnoseer. Chroniese granulomatose is ‘n skaars oorerflike siekte wat voorkom by 1 uit 200 000 mense.

“Haar witbloedselle kon nie sekere bakterieë en swamme beveg nie en alhoewel sy vir die laaste paar jaar gesond was, kon sy enige tyd 'n lewensgevaarlike infeksie opdoen.”

Hy vertel die enigste opsie was dat Liza 'n beenmurgoorplanting ontvang. Die oorplanting het op 11 Januarie plaasgevind by Unitas hospitaal in Centurion. Liza is nou al ongeveer 120 dae in die hospitaal. Sy word behandel vir die newe- effekte van die beenmurgoorplanting wat sy ontvang het.

Engelbrecht sê dat haar lyfie die nuwe beenmurg moet leer aanvaar maar terwyl die twee teen mekaar baklei, ervaar sy erge simptome soos naarheid, diaree, ‘n veluitslag en maagpyn.

“Liza ontvang ook gereeld bloedoortappings en bloedplaatjies. Die enigste genesing is 'n beenmurg oorplanting. Daarsonder is iemand met die toestand se lewensverwagting nie baie goed nie,” vertel hy.

“Ons het gelukkig 'n mediese fonds maar daar is maar heelwat persoonlike uitgawes asook sommige medikasie wat nie deur die mediese fonds betaal word nie.”


Liza is een Sondag verras deur 'n 'unicorn' of eenhoring wat vir haar by die hospitaal kom kuier het.  

“Wonderlike vriende van ons, Michael en Vinia Wheatley, het die idee 'n werklikheid gemaak. Die 'eenhoring' behoort aan Elbie van Eeden van Benoni en word gestal by Carla Grove. Hierdie dames het saamgewerk om vir Donna op te maak as ‘n unicorn en haar al die pad Centurion toe gebring.”

Hy vertel dat Liza van baie kleins af lief is vir perde en 'eenhorings'. Sy was baie bly om vir Donna te sien en kon ook 'n draai op Donna se rug ry. Die besoek het Liza se dag gemaak en sy kon nie ophou glimlag nie.

Daleen Cilliers, Elrita Schütze, Evette Watson, en Vanessa Fallows hardloop op 11 Junie die gewilde marathon, die Comrades, ten bate van Liza.

“Ons het al heelwat skenkings ontvang maar dalk kan ons weer iemand anders help sodra Liza se mediese onkoste gedek is. Mense moet hulself of die beenmurg register laat plaas. Dit neem slegs n 'swab' toets,” sê Engelbrecht.

OFM Nuus




Gallery

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.